VEREENIGING – Charlie is ‘n Boerboel-kruising van ongeveer sewe maande. Haar jaar sover was omtrent ‘n wipwarit.
Presies hoe en wanneer sy by die DBV Vereeniging & Vanderbijlpark beland het, is ek nie seker nie, maar op 3 Januarie het Charlie se foto saam met vele ander honde op die DBV se facebookblad verskyn.

Met haar tennisbal in haar bek en haar hele houding reg om te speel, het sy vele harte gesteel tussen al die foto’s in die reg vir aanneming album.
Slegs vier dae later en die DBV het op hul Facebookblad die goeie nuus gedeel, Charlie is aangeneem en haar nuwe familie het sommer haar beste vriend Pirate ook aangeneem.
Charlie se aanhangers was oorstelp van vreugde. Dit was egter van korte duur.
Net die volgende dag, 8 Januarie is die vreeslike nuus gedeel. Charlie is dodelik siek. Die gevreesde Parvo-virus. Sy is in ‘n privaat dierehospitaal opgeneem en die DBV was verantwoordelik vir die koste.

Hulle het vir fiansiële ondersteuning gevra om Charlie te red en dit gekry. Maandag kon hul die goeie nuus deel. Die onkostes is betaal en Charlie is by die huis!
Mag Charlie en Pirate baie gelukkige jare met hul nuwe huisgesin hê!
