Tragedie by Vanderbijlpark-begraafplaas
'n Man is Maandag (12 Januarie) dood in sy motor, 'n Audi A4, by die Vanderbijlpark-begraafplaas gevind.
Volgens polisieverslae is die skokkende ontdekking gemaak nadat ‘n verbyganger die voertuig opgemerk en die polisie ontbied het.
Beamptes het ondersoek gaan instel en die hartseer toneel ontdek. Die motor was toegesluit met die man se kop op die stuurwiel.
“Die man het ‘n skietwond aan die regterkant van sy kop gehad en ‘n pistool is binne-in die voertuig gevind,” het sersant Sabelo Sigcu, polisiewoordvoerder, gesê.
Sy identiteit is nog nie bekend gemaak nie, hangende die inkennisstelling van sy naasbestaandes.
Sigcu het gesê dat ‘n geregtelike doodsondersoek geopen. Daar is nog nie amptelik bevestig of dit selfdood was nie.
Die polisie het ‘n beroep gedoen op enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, om die Vanderbijlpark SAPD te kontak of die SAPD-misdaadstopnommer 08600 10111 te skakel.
