Groot drome begin met klein treetjies
Die groot oomblik het toe aangebreek ... vir ouers en die graadeens. Die eerste skooldag van ’n graadeenleerder is een van daardie groot mylpale in die lewe.
Dis die amptelike oorgang van die veilige speelwêreld na die gestruktureerde wêreld van “groot skool”.
Boonop kan die eerste paar skooldae ‘n mengel van emosies wees. Opgewonde oor die nuwe hoofstuk, maar tog bietjie senuweeagtig.
Met my besoek Woensdagoggend aan die LS Totius in Vanderbijlpark se graadeen klasse was daar egter nie juis trane nie.
Die kleintjies het heel gemaklik agter hul skoolbanke gesit en handjies was kort-kort in die lug om juffrou met vrae te peper.
Dit lyk vir my of dié nuwe graadeens sommer gou hul voete sal vind. En dis goeie nuus, want die struktuur van “skool” is ‘n belangrike een.
Daar moet geleer word dat as die klok lui, jy betyds moet wees. In die klas moet jy leer om te luister en stil te sit, en natuurlik om verantwoordelik te wees.
Want jy moet sorg dat jou potlode, kosblik en baadjie weer saam in jou tas huistoe kom.
Al hierdie strukture vorm uiteindelik ‘n nuwe towerwêreld van geletterdheid en syfers. Dit is ook hier waar lewenslange vriendskappe dikwels begin.
Die belangrikste ding wat ouers in die eerste kwartaal moet besef is dat hul kleingoed nie noodwendig foutloos gaan kan lees nie, maar dat hulle veilig en geliefd moet voel in hul nuwe omgewing.
Ondersteuning en liefde is belangriker as perfekte punte.
- Redaksionele Kommentaar deur Elsje Vermeulen (Redakteur: Vaalweekblad).
