Speel met jou kat vir geestelike welstand
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beraam dat een uit elke agt mense wêreldwyd met ’n geestesgesondheidstoestand leef.
Die harteseernuus is, dat volgens die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG), slegs 1 uit elke 10 mense met ’n geestesiekte in Suid-Afrika, toegang tot behandeling het.
Hoewel professionele sorg noodsaaklik is, kan alledaagse lewenstylkeuses – soos om te oefen, tyd saam met jou troeteldiere deur te bring en gesonde roetines te vestig, ’n deurslaggewende rol speel in die ondersteuning van geestelike welstand.
“Om met jou hond te gaan stap of met jou kat te speel, bied meer as net fisiese oefening,” sê Marycke Ackhurst, troeteldiergedragskundige by Hill’s Pet Nutrition.
“Dit help om stres te verminder, eensaamheid te verlig en selfvertroue ’n hupstoot te gee. Dit bring vreugde in ons lewens, iets wat ons almal nodig het vir goeie geestesgesondheid.”
INTERESSANT
Daar is bewys dat om met ’n kat te speel, serotonien- en dopamienvlakke verhoog (chemikalieë in die brein wat gemoedstoestand verbeter en die senuweestelsel kalmeer).
Honde-eienaars wat gereeld met hul honde stap, is meer geneig om aan fisiese aktiwiteitsriglyne te voldoen, terwyl kat-eienaars laer stresvlakke en ’n verbeterde gevoel van geselskap ervaar.
