VANDERBIJLPARK – Die dames van die Vroue Landbou Unie (VLU) is altyd doenig met die een of ander projek.
Hulle help en leer bymekaar en as dit moet kry hul mense van buite in om vir hul nuwe vaardighede te leer.
Daar word saam gewoeker en gewerk, gebak en soms gebrou, maar altyd is die gees onder die dames dieselfde. Om lekker saam te kuier, maar ook om daar te wees vir mekaar in die goeie en slegte tye.
Hier is geen ouderdomsbeperking nie, hier kan elkeen hul talente uitleef en nuwes ontdek van borduurwerk tot by skryfstukke, ingelegde vrugte tot fotografie.
Alpha Tak se eerste byeenkoms vir 2026 vind plaas op 20 Januarie om 09:30. Soos gewoonlik kom hul bymekaar by die Palms Aftreeoord se saal, Vaaldrive 11, Vanderbijlpark.
Indien jy nog altyd wou sien wat maak die VLU of net lus is vir iets anders, gaan woon gerus die byeenkoms by en vat sommer ‘n vriendin saam. Jy sal nie spyt wees nie. Vir navrae kontak vir Suzette by 082 377 9186.
By die eerste vergadering moet alle lede ook reeds hul kompetisie artikels inhandig, want die jaarlikse konferensie vind op 25 Februarie plaas in Petrus Steyn.
Verder bied Alpha Tak ook Area 1 se eerste vergadering op 24 Januarie aan by die Palms saal. Tydens hierdie vergadering kom die hele area se voorsitters en sekretaresses bymekaar.
Die tak begin dus op ‘n draf stappie, nadat hul in Desember met grasie en ‘n prysuitdeling afgesluit het.
Van die trofeëwenners sluit in Tersia van der Walt, Suzette du Toit, Elsa Brits, Myra Booyens en Rina de Klerk. Vir meer besonderhede kontak gerus vir Rina de Klerk by 083 307 3066.
