Local newsNewsNews

Die een wat dieper kyk en meer verstaan

Daar is mense in die ou wêreld wat nog regtig luister, wat empaties elke dag die lewe aanvat om 'n positiewe impak te maak. Nico janse van Rensburg is een van daardie mense.

VANDERBIJLPARK – Nico Janse van Rensburg. Pastoor. Vriend. Broer. Vertroueling van baie.

Om hom vas te vang in ‘n enkele berig is half ‘n saak van ontmoontlikheid, soos die ou mense sou sê.

Sy agtergrond is maklik. Ken hom al van laerskooldae af. Hy en sy tweelingbroer, Tobie, was in Laerskool Frikkie Meyer. Nie sleg stout nie, dalk meer ondeund. Beide is HTS Carel de Wet toe.

In 1986 het Nico sy hart vir die Here gegee en sy passie ontdek. Om mense aan te raak. Om te luister wanneer ander nie wil nie. Te sien wat ander nie wil sien nie.

“Siele te werf vir die Here,” vertel hy. Selfs al was hy nie ‘n pastoor en gelowige nie, sou hy in alle geval uitgereik, gehelp, en geluister het. Dis net hoe hy is.

Stilsit werk nie so lekker vir hom nie. Selfs tydens die gesprek tik sy vingers op die tafel, weet ek sommer sy brein dink aan baie dinge op een slag.

Nico Janse van Rensburg leef sy passie om mense te help.

Dit sluit nie sy volgende preek in nie. Nico is al vir jare bekend daarvoor dat hy nie preke voorberei nie. Nie notas maak nie.

Maak nie saak of hy ‘n diens moet lei of ‘n begrafnisdiens moet hou nie. Die man het die uitsonderlike gawe om ander se emosie aan te voel, atmosfeer te ontleed en presies te sê wat nodig was om te hoor. Regte tyd op die regte plek.

Vir sy medemens sal hy ver gaan. Uit sy pad uit gaan. Ek was stomgeslaan toe hy in 2008 doodluiters langs my man se hospitaalbed opgeduik het in Pretoria.

Hy het hom nie geken nie, maar hy het my en my ouers geken. Hy het al die pad van Vanderbijlpark gery net om vir my man te kom bid.

“Ja, ek doen nogal sulke goed. Ek was al ‘n slag so Middelburg toe ook, en terug. ‘n Mens moet mos compassionate wees.

“Ek glo jy kan altyd iets by iemand anders leer. Een van my grootste lewenslesse was, maak nie saak hoeveel keer jy val nie, staan op,” en sy oë weerspieël dat hy weet waarvan hy praat.

Nico se oë en hande praat saam. Sy oë blink helder as hy vertel van die gemeente wat hy twee jaar terug gestig het.

Daar waar almal welkom is. Niemand geld opneem nie.

“Ek glo if you take care of God’s business, God will take care of your business,” sê hy met oortuiging.

Hy het City of Wonders (wat Sondae by die ou Yskor Klub bymekaarkom) gestig sodat gebroke mense weer die wonderwerke rondom hulle kan begin raaksien.

Bykans elke sin haal hy ‘n Bybelvers of twee aan. Nie aanstellerig nie, dis sy spreektaal.

Dis hoe hy is, wie hy is. Nico, die man wat ‘n positiewe impak het op almal om hom, sonder dat hy dit werklik self besef.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button