NewsNewsSport

‘n Sportiewe koelkop leier met insig in die lewe

Maak nader kennis met een van die Vaal se jong, opkomende sportsterre, Raymond Hirchfeld

MEYERTON – Daar is mense wat ‘n ander tipe insig in die lewe het. Asof hulle net so bietjie dieper kyk, bietjie dieper verstaan.

Min wat ek dit in ‘n graad agtleerling raakloop. Raymond Hirchfeld is een van daardie uitsonderlike mense.

Ons gesels sport, akademie en die land se toekoms, alles in een gesprek en hy praat rustig, duidelik en met insig oor elke onderwerp.

Raymond was die kaptein van die o13 Rhino Rugby span in 2025.

Vertel van sy prestasies, nie omdat hy wil spog nie, blote stellings omdat ek gevra het. Verlede jaar was hy die o13 Rhino Week Rugby kaptein wat in Italië gaan toer het.

Die rugby was lekker, maar dis die verskillende mense, kulture en ou geboue wat hom gefassineer het. “Ons was tot in Venesië en ek het gevoel ek het my voet nou hier gesit,” beduie hy.

Verlede jaar was Raymond nog een van Laerskool Voorwaarts se blinkste sterre. Hoofseun, eerstespan krieket en rugbyspeler met ‘n gemiddeld van 91%.

Hierdie week het hy ingeval saam met al die ander graad agt-leerders vir inlywing by Hoërskool Dr. Malan. “Ons moes baie goed doen soos om die gras te kielie totdat dit lag en te oefen vir die groentjiekonsert. Dis soos dit is. Eintlik lekker en dit gaan vinnig verby.”

Raymond het skoonskip gemaak by Laerskool Voorwaarts se prysuitdeling verlede jaar.

Alhoewel hy ‘n goeie rugbyspeler is, is daar een sport wat hom nader aan die hart lê en dis krieket. Hy beskou homself as ‘n bowling all-rounder, spesifiek ‘n snelbouler.

Nie dat sy kolfwerk agterweë bly nie. Sy hoogste telling is 141 en dan het hy eenkeer in ‘n T20-wedstryd 50 lopies van net 20 balle geslaan.

“Ek speel nie net vir die skool nie, maar vir Meyerton Krieket Klub ook en dit help baie. Ek leer by die ervare manne en maak my foute reg,” vertel hy.

Hy beoog om hierdie jaar Dokkies in die o14 en o15spanne te verteenwoordig.

Sy gunsteling rugbyspan is die Lions en hy is ‘n groot ondersteuner van die Joburg Super Kings krieketspan wat in die SA-liga speel.

“Suid-Afrika het ‘n goeie toekoms in die sport wêreld,” sê hy. “Wat van die res van Suid-Afrika?” vra ek.

Sy antwoord is filosofies, asof hy al lank daaroor gedink het: “Elkeen van ons kan ons lig hier maak, maar nie tot volle skyn bring nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: [email protected]
Check Also
Close
Back to top button