NewsNews

Boomklim was toe nie ‘n goeie idee nie

Keegan (graad 4) het die jaar met 'n harde slag begin

VANDERBIJLPARK – Keegan Prinsloo sit rustig op sy ouma-grootjie se bank, alle konsentrasie op sy selfoon.

Hy luister so met ‘n halwe oor na wat sy sussie, Mieke, kwytraak. Die onderhoud gaan eintlik oor haar.

Dis totdat sy ouma-grootjie skielik die aandag op hom vestig. “Hierdie een het mos albei sy arms gebreek op Oujaarsdag.”

Keegan lig albei sy arms op. Die een is getooi in blou gips en die ander in die tipiese groen en grys van kamoefleerdrag.

“Wat het jy gemaak?”
“Uit die boom geval. Ek hou van bome klim,” antwoord hy nonchalant.

“Nou hoe gaan jy maak by die skool?”
“My maats sal my moet help. Ek het een van daai sleeptasse en dit gaan nie nou werk nie.”

Hy is hoeka die jaar in graad vier en dan word daar mos klasse gewissel.

Eers toe Keegan en Mieke vir ‘n wyle uit die sitkamer verdwyn, beduie hul groot-ouma Prinsloo presies hoe ernstig die situasie was.

“Ek het in die sitkamer gesit en gesien hoe val hy uit die boom uit. Hy het op sy gesig beland en sy arms.”

Keegan is dadelik na ‘n privaat hospitaal geneem wat hom na Alberton se trauma eenheid verwys het.

Hier is daar die erns van die beenbreuke in sy arms besef en Keegan is dadelik opgeneem vir ‘n groot operasie waar daar penne in sy arms gesit is.

Daarna was hy so twee dae in die intensiewe sorgeenheid, alvorens hy ontslaan is. “Dit kon soveel erger gewees het,” beduie sy ouma-grootjie.

“Ons was bang hy het dalk harsingskudding opgedoen. Gelukkig het hy nie. Hy het belowe hy klim nie weer ‘n boom nie, in alle geval nie waar ek dit kan sien nie,” sug sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button