Taxi-tragedie: Dodetal steeds op 13
Saak van strafbare mansslag word ondersoek na taxi-tragedie.
Hierdie berig en opskrif is om 20:30 op 19 Januarie aangepas nadat die dodetal foutiewelik deurgegee is.
VANDERBIJLPARK – Die Gauteng LUR vir onderwys het vroeër vandag tydens ‘n perskonferensie sy medelye teenoor die 13 leerlinge en ouers betoon wat vanoggend hulle lewens in ‘n tragiese ongeluk verloor het.
Die tragedie het vanoggend omstreeks 07:00 op Fred Droste Road op die R553 naby Vanderbijlpark afgespeel toe ‘n tipper-vragmotor en ʼn private minibus-taxi gebots het.
Elf leerlinge is op die toneel dood verklaar en nog twee leerlinge het later aan hulle beserings beswyk.
Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi het ook die toneel besoek om sy medelye te betoon. Brigadier Tumi Masondo, het tydens ʼn perskonferensie op die toneel gesê dat voorlopige bewyse daarop dui dat die bestuurder van die minibus twee voertuie probeer verbysteek het toe die ongeluk plaasgevind het. Daar word ʼn saak van strafbare mansslag ondersoek.
Volgens Kenneth Sejeng, die hoofuitvoerende beampte van die Sebokeng-hospitaal, was vier leerlinge in kritieke toestand in die hospitaal opgeneem.
Daar is volgens Sejeng ʼn beheersentrum by die hospitaal opgerig om die ouers en gemeenskap op hoogte te hou. Die Gauteng LUR vir gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het ook besoek by die hospitaal afgelê.
