Bestuurder van Taxi-tragedie gearresteer
Word op 12 aanklagte van strafbare manslag aaangekla.
VANDERBIJLPARK – Die 22-jarige bestuurder van ‘n privaat minibus-taxi wat gisteroggend in ‘n noodlottige ongeluk betrokke was, is gearresteer en gaan binne 48 uur in die Vanderbijlpark landdroshof op 12 aanklagte van strafbare manslag verskyn. Hy word ook van nalatige en roekelose bestuur aangekla. Hy is na sy ontslag uit die hospitaal inhegtenis geneem.
Die taxi het volgens ooggetuies verskeie voertuie verbygesteek en met ‘n vragmotor van voor gebots. Die vragmotorbestuurder het ongedeerd van die ongeluk afgekom terwyl sy passasier vir besering in die hospitaal behandel is.
Hoewel daar verwarring oor die dodetal geheers het, het die Suid-Afrikaanse Polisie Diens (SAPD) in ‘n persverklaring bevestig dat die dodetal nou amptelik 12 is. Elf insittendes is op die toneel dood verklaar en nog ‘n slagoffer het later gesterf. Vyf leerlinge is na nabye hospitale vervoer en een is sedertdien ontslaan.
Die departement van onderwys se woordvoerder, Steve Mabona, het ook die dodetal bevestig.
“Ons het ’n bevestigde getal van 12 leerders wat hul lewens verloor het. Drie van Hoërskool Vanderbijlpark, een van Vaal High, een van Oakwood Primary, een van Vaal Triangle Primary, een van Oliver Lodge Primary School, een van Noordhoek, en vier van El Shaddai Christian School,” het hy aan Sifiso Jimta, verslaggewer van Vaalweekblad gesê.
