SASOLBURG – Vir getroue Vaalweekbladlesers sal die naam JP Nel bekend wees. Die jongman maak al opslae met sy swemvernuf sedert hy vyf jaar oud is.
Dit was nog altyd sy droom om SA internasionaal te verteenwoordig. Hy is onder meer aandagafleibaar en tas sensitief. Dit is een van die redes waarom hy swem so geniet. Dis nie ‘n kontaksport nie.

Sy ma, Joan Nel, sê sy het JP op aanbeveling van hul dokter destyds laat swemlesse neem aangesien hy ook ‘n asmalyer is.
Hy het as deel van die Fakkel School of Skills se swemspan in 2015 begin om medaljes in te ryg. Daarna het hy Vrystaatkleure gekry en vele medaljes ook by die SA’s verdien.
Na skool het hy voortgegaan om kompeterend te swem en het hy gekompeteer in die S14-kategorie. Hierdie kategorie groepeer swemmers saam wat ‘n stadiger reaksietyd het en wat sukkel om byvoorbeeld die volgorde van gebeure of patrone te herken of te onthou.
Vir JP is swem meer as net ʼn sport. Dis nou al vir jare sy lewenswyse. Hy verwys daarna as sy hart sport en is op sy gelukkigste as hy kan swem.
Hy is gekies deur die Suid-Afrikaanse Sport Federasie en Olimpiese Komitee (SASCOC) om aan die 2026 Para Swimming World Series te gaan deelneem. Dit vind vanaf 20 – 22 Februarie by die Gold Coast Aquatic Centre plaas.
JP benodig ongeveer R35 000 om te kan gaan. Sy swemklub, J’s Aqua het vir hom ʼn back-a-buddy fonds oopgemaak waarin hulle in detail waarvoor die geld gaan en hoe hulle bankvas agter JP staan.
As jy kan help, klik op die skakel.
