Plaaslike fotograaf skitter op wêreldverhoog
Altesaam 620 foto’s uit 31 lande is tydens hierdie gesogte geleentheid beoordeel.
Tydens die onlangse tweejaarlikse FIAP-kompetisie (Federation for International Art of Photography), het die wêreld se topfotograwe mekaar die stryd aangesê. ‘n Trotse inwoner van die Vaaldriehoek het as algehele wenner uit die stryd getree.
Mietsie Visser, ‘n lid van die Vanderbijlparkse Fotografiese Vereniging, het die internasionale paneel gaande gehad en met die heel boonste toekenning weggestap.
Die tema vir vanjaar se kompetisie was Sport. Elke nasionale liggaam wat by FIAP geaffilieer is – soos die Photographic Society of South Africa (PSSA) – kon 20 van hul beste foto’s inskryf.
Na die finale beoordeling was Suid-Afrika en Rusland kop-aan-kop in die algehele eerste plek.
Hoewel die punte gelykop was, moes die beoordelaars volgens reglement ‘n finale wenner aanwys.
Rusland het uiteindelik die louere as land ingepalm, terwyl Suid-Afrika ‘n skitterende algehele tweede plek behaal het.
Individuele prestasies
Onder die honderde inskrywings was daar slegs een goue medalje vir die algehele wenner beskikbaar, saam met twee silwer- en drie bronsmedaljes.
Mietsie Visser het die gesogte goue medalje verower vir haar aksiefoto Wilde Hekkiestryd.
Hierdie wêreldklas-prestasie deur Mietsie bevestig nie net haar talent nie, maar plaas die Vanderbijlparkse Fotografiese Vereniging stewig op die globale kaart van top fotografie.
* Nog ‘n Suid-Afrikaner, Johan Orten, het ‘n bronsmedalje verower.
