VANDERBIJLPARK – Die Hoërskool Transvalia het ‘n hele span atletiekafrigters onder die direkteur van atletiek, mnr. Arnold van der Merwe. Hy het die gawe om net die beste afrigters vir die Vaal se jong atlete te kry en om potensiaal raak te sien.
Eben Vermaas fokus op diskusgooi en gewigstoot. Leon Rheeder fokus op spiesgooi. Tussen die twee van hulle het hul dekades se ondervinding met atlete wat wêreldrekords gebreek het, Afrikarekordhouers en SA kampioene.
Dis duidelik dat Eben en Leon al lank saamwerk en goeie vriende is. Hulle staan saam-saam nader vir die onderhoud. Voltooi mekaar se sinne en onthou mekaar se kampioene.
Eben is in Pretoria gebore, maar het onder andere in die Laeveld, Krugersdorp en Klerksdorp gebly. Anders as wat mens van ‘n wêreldklas worpe afrigter sou verwag, het hy nooit self gewigstoot gedoen of diskus gegooi nie.
“Ek was eintlik ‘n middel en -langafstandatleet,” lag hy. “Ek het twee mentors gehad wat my alles van afrigting geleer het, wyle Pierre Blignaut en Oom Arnold van der Merwe.”
Eben is Maandae en Donderdae op Transvalia se velde te vind, maar ander dae is hy by ‘n magdom ander skole doenig en is hy ook onlangs aangestel as NWU Potchefstroom se worpe afrigter.
Hy en Leon het ook paralimpiese atlete wat hul afrig en op wie hul baie trots is. “Ons maak ‘n span,” sê Eben en Leon, die stiller een van die twee, knik instemmend.
Leon is in Potchefstroom gebore en het ook tyd in Kroonstad spandeer. Op skool het hy al ‘n voorliefde vir spiesgooi ontwikkel, maar hy het ook gimnastiek en duik geniet.
“My persoonlike beste was 82.28m met die ou spies en 79m met die nuwe spies,” vertel hy trots. Ongelukkig is sy atletiekloopbaan in die wiele gery nadat hy sy achilles in ‘n pluimbalwedstryd afgetrap het.
Daarna het hy op afrigting begin fokus. “Ek is flippen besig. Besoek gewoonlik die eerste skool so teen 12:00 en dan maak ek 20:00 klaar.” Naas die skole, rig hy ook privaat atlete af.
Eben en Leon reken Transvalia se atlete het baie potensiaal. “Ons maak dit vir die kinders lekker,” beduie hy.
“Is julle twee kwaai?” vra ek so bietjie aspris. Hulle lag. “Nee, maar ons is baie passievol en streng. As jy wil poer-poer dan kan jy by die huis bly.”
