NewsNews

Van baie siek tot gesonde graadeentjie

Haar eerste vyf jaar was vol pyn en siek wees, maar hierdie jaar pak sy graad 1 volstoom aan.

VANDERBIJLPARK – Mieke Prinsloo sukkel om stil te sit. Haar oë straal want sy is nou in graad een. Sy skerts met haar ouer broer, Keegan, vertel dan verder hoe sy die jaar gaan netbal en hokkie speel.

Haar nuwe skooluniform is haar trots. “Ek is in Eligwa,” sê sy trots. Dis eers wanneer sy die sny wys waar die dokter haar onderontwikkelde nier verlede jaar uitgehaal het, dat ek besef presies hoe groot die oomblik vir haar is.

Mieke en haar pa langs die viswaters. Sy geniet alles in die buitelug

Vir vyf jaar het sy in pyn geleef. Koorsaanvalle gekry. Blaasontstekings. Vaalweekblad het in Desember 2024 die eerste keer oor Mieke berig.

Sy was op daardie stadium ‘n besige vyfjarige wat haar graad RR jaar by die Laerskool Eligwa geniet het. Agter haar mooi glimlag was daar egter baie pyn. Pyn wat sy al sedert geboorte gehad het.

Haar ma, Ilse, sê daar is destyds tydens ‘n sonarondersoek toe sy swanger was gevind dat daar ‘n abnormaliteit is op een van Mieke se niere.

Mieke Prinsloo het verlede jaar al begin hokkie speel en dit baie geniet.

In haar eerste vyf jaar het sy talle koorsaanvalle gekry wat haar in die hospitaal laat beland het. Dokters het gevind die een niertjie was totaal onderontwikkeld en die ander een te groot.

Sy is na ‘n nefroloog in Alberton verwys waar verskeie toetse gedoen is. Daar is toe gevind dat sy graad 4 vesikoureterale refluks het.

Dit beteken dat die urine terugvloei na haar blaas en derhalwe ontsteking veroorsaak. Op 7 Februarie verlede jaar is die onderontwikkelde nier verwyder.

Mieke het goed herstel en is uiteindelik terug skool toe om graad R te voltooi. Op vorige foto’s het sy altyd rooi koorswangetjies gehad al het sy dapper geglimlag.

Mieke kort na haar groot nieroperasie in Februarie 2025.

Nou straal sy, die pyn is weg. Sy hoef nie meer al die medikasie te gebruik nie. “Ek het al twee tande gewissel. Een van hulle het ek sommer self getrek,” wys sy haar mond waar die twee melktande gesit het.

“Ek het die eerste tand in my slipper gesit en die ander onder my kopkussing en elke keer R50 gekry!”

Dis goed om haar gesond te sien. “Ek het Ps. 91 gebid toe hulle haar in die teater instoot,” vertel haar Oumagrootjie Prinsloo, “en toe sy uitkom het daar Ps.91 op een van haar handskoene gestaan, toe weet ek sy is gesond.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button