LS Noordhoek spog met 12 tweelinge én ‘n drieling
VANDERBIJLPARK - Volgens statistiek kan ongeveer een uit elke 80 swangerskappe 'n tweeling oplewer. Drielinge is nog skaarser - ongeveer een uit 8 000 swangerskappe.
Tweelinge en drielinge fassineer mense al vir eeue lank. Dit is nie net omdat hulle minder gereeld voorkom as enkelgeboortes nie, maar ook as gevolg van die unieke biologie en die emosionele band wat hulle deel.
Die kans om ‘n tweeling of drieling te kry, is relatief klein. Dit voel dikwels vir families soos ‘n “dubbele seën” of ‘n mediese wonderwerk indien dit wel gebeur.
Die Laerskool Noordhoek in Vanderbijlpark spog vanjaar met ‘n rekordtal tweelinge en drielinge in die skool.
In totaal is daar 12 stelle tweelinge en een stel drieling.
Sewe van dié stelle tweelinge, asook die drieling, is vanjaar in graad een.
Skoolhoof Anneline Herbst en haar personeel is sommer baie trots op die voorreg om met soveel stelle tweelinge en ‘n drieling te kan spog.
Vaalweekblad het verlede week daar gaan inloer om hulle af te neem. Almal was teenwoordig behalwe vir een stel tweelinge.
* Die wêreldrekord vir die meeste tweelinge in een skool (en spesifiek in een akademiese jaar) word gehou deur New Trier High School in Winnetka, naby Chicago, VSA, met 44 stelle tweelinge en ‘n drieling (totaal 89 kinders), wat ‘n Guinness-rekord in 2018 opgestel het.
Op Suid-Afrikaanse bodem het die HS Noordheuwel in 2020 met 14 stelle tweelinge gespog.
Laerskool Gene Louw in Durbanville (Wes-Kaap) spog ook vanjaar met sewe pare tweelinge in graad een.
Foto’s: Elsje Vermeulen













