Onwettige bouery lê Sasolburg lam
AfriForum dring aan op daadwerklike optrede deur die Metsimaholo Munisipaliteit
SASOLBURG – Sasolburg se AfriForum-tak het in ‘n persverklaring dringende beroep op die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit gedoen om dringend op te tree teen die onwettige bou- en besettingsaktiwiteite op ’n eiendom in Finlay Straat digby die Van Riebeeck-ouetehuis.
Vaalweekblad wag nog vir terugvoering van Dr. Gino Alberts, die woordvoerder van die plaaslike munisipaliteit.
Volgens DA-raadslid, Jacques Barnard is dit nie iets nuuts nie.
“Die feit dat daar baie onwettige bouery plaasvind is die waarheid. Studentebehuising in die buurte om die Flavius Mareka college en 10 Finley Straat is glad nie ‘n uitsondering nie.

Ek rapporteer ook baie gereeld aan die bou beheer afdeling sulke klagtes. Die direkteur het laas jaar vir my gesê dat die munisipaliteit ‘n hofbevel voor aansoek gedoen het, maar hoe vêr dit is weet ek nie.

Luidens ’n brief wat AfriForum op 22 Januarie aan die munisipaliteit gestuur het, het die organisasie inligting van plaaslike inwoners ontvang dat Finlay Straat 10 onregmatig deur individue, wat onwettige strukture oprig sonder enige goedgekeurde bouplanne of wettige okkupasiereg, beset word.
Daar is ook ernstige bewerings dat water- en elektrisiteitsverbindings onwettig vanaf naburige eiendomme getap en gesteel word.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, sê die situasie hou ’n onmiddellike risiko in vir die veiligheid en gesondheid van inwoners, veral die bejaardes by die aangrensende ouetehuis.
Onwettige elektrisiteitsverbindings skep ’n ernstige brand- en veiligheidsgevaar, terwyl die onbeheerste gebruik van munisipale dienste die infrastruktuur verder onder druk plaas.
AfriForum waarsku dat die munisipaliteit ’n grondwetlike en statutêre plig het om inwoners te beskerm en wetstoepassing te verseker.
Die voortgesette versuim om op te tree kan neerkom op ’n verbreking van onder meer die Grondwet, die Munisipale Stelselswet, die Wet op die voorkoming van onwettige uitsetting en onregmatige besetting van grond, asook wetgewing wat die onwettige gebruik van water en elektrisiteit verbied.
In die brief eis AfriForum dat die Metsimaholo-munisipaliteit onmiddellik ondersoek instel na die onwettighede op die eiendom, alle onwettige en gevaarlike diensverbindings beëindig, toepaslike afdwingings- en uitsettingsprosesse instel en binne sewe dae skriftelike terugvoer oor die stappe wat geneem is, aan die organisasie verskaf.
Volgens Braam Muller, die voorsitter van Sasolburg se AfriForum-tak, sal die Metsimaholo-munisipaliteit daadwerklik moet begin tande wys teen onwettige bouery in Sasolburg.
“Afgesien van die feit dat dit onwettig is, kan die dorp se infrastruktuur ook nie die ekstra las dra nie,” sluit Muller af.
Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak en -buurtwag betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak.
Vir meer inligting kontak Muller by 076 125 7773.
