Local newsNews

Wat werklik by ongeluk- en misdaadtonele gebeur

Intimidatasie en viktimisasie is maar net 'n paar dinge waaraan die media blootgestel word.

Dit is bitter maklik om kommentaar te lewer wanneer jy agter jou lessenaar in jou lugversorgde kantoor sit en nuusgebeure op sosiale media volg.

Konteks ontbreek, jy kan kyk en weer kyk na foto’s… afleidings maak en Sherlock Holmes na hartelus speel.

Alles op jou slimfoon. Mense laat beslis nie feite in die pad staan van ‘n goeie storie nie. Elkeen se opinie word op ‘n publieke platform gepubliseer.

Mense met uiteenlopende voorkeure en wat vanuit verskillende sosio-ekonomiese vlakke afkomstig is, loop mekaar sommer trompop.

Dis mos sosiale media met sleutelbordkrygers wat onder die valse indruk verkeer dat hul vryheid van spraak ander se menseregte kan skend sonder toerekeningsvatbaarheid.

Dit werk nie so nie. Die afgelope twee weke is die Vaaldriehoek deur twee tragedies getref. Die dood van Thomas Sithole het ‘n kruitvat op sosiale media laat ontplof.

Beskuldigings is geslinger en feite word verdraai. Slegs tyd sal leer wat presies gebeur het. Tot dan is almal onskuldig.

Een ding wat op sosiale media na vore getree het, is dat ons SuidAfrikaners ‘n beheptheid het met velkleur en mense sonder verhoor skuldig bevind.

Sosiale media is die regter, jurie en laksman. Onmiddellike bevrediging is ‘n siekte. Alles moet kits wees… kitsliefde, kitskos en kitsgeregtigheid.

Ek sal nie sommer Maandag, 19 Januarie vergeet nie. Dit alles om die verkeerde redes. Mens sukkel steeds om sin te maak waarom 14 skoolkinders so sinneloos in ‘n ongeluk moes sterf.

Die stryd en uitdaging wat joernaliste en veral fotograwe op tonele in die gesig staar is iets vreeslik.

Die laaste keer wat ek so uitgejou is, was by die brugramp van die HS Driehoek. Emosies by tonele is rou. Mense het seer en hul optrede is verstaanbaar.

Maar onkunde, arrogansie en sommige mense se behoefte aan magsvertoon is die vyand. Dit is Maandagoggend weer onderstreep.

Geklee in my hemp waarop die woorde: Media Crew en Vaalweekblad se logo pryk, en my media akkreditasie om my nek, word ek keer op keer deur onkundige polisiebeamptes weerhou om foto’s neem.

Elke keer moet mens Staande Opdrag 156 van die wet vir hulle soos ‘n rympie opsê. Hoewel die media in terme van seksie 69 van die SAPD Wet van 1995 die media kan verbied om sekere foto’s en sketse te publiseer, mag ‘n mediaverteenwoordiger nie verhoed word om foto’s te neem en opnames te maak nie.

‘n Privaat nooddienswerker se onkunde is op die betrokke dag weer onderstreep.

So staan ek en ‘n fotograaf van ‘n ander publikasie en foto’s neem, toe die nooddienswerker op ons afpeil en ons verbied om foto’s te neem.

Ek het genoeg gehad en kap terug. Na hy verwittig is dat hy geen mag het om geakkrediteerde lede van die media aan te spreek nie, het hy voortgegaan om die media te dreig en handtekens te wys.

Op sy mou staan First Responder… miskien moet skoenmaker hom hou by sy lees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button