Luister met sorg om lewenslank te hoor
Een miljard jongmense loop die risiko van geraasgeïnduseerde gehoorverlies. Staan ’n oomblik stil en probeer daardie getal begryp.
Volgens prof. De Wet Swanepoel van die Universiteit van Pretoria se Departement vir Spraak-Taalpatologie en Oudiologie is “die skade nie oombliklik nie, maar hoop dit oor tyd op en word dit dikwels eers baie later in die lewe ‘n probleem.”
Hy beklemtoon verder dat dit moontlik ouderdomsverwante gehoorverlies kan versnel – wat impliseer dat as jy van jongs af na jou gehoor omsien, jy die agteruitgang van gehoor met ouderdom beduidend kan vertraag.
Geraasgeïnduseerde gehoorverlies is die vernaamste oorsaak van gehoorskade onder die jeug, tipies as gevolg van onveilige luistergewoontes wat algemeen voorkom onder mense tussen die ouderdomme van 12 en 35 jaar.
Hierdie ouderdomsgroep is geneig om vir te lank na klank teen hoë volumes te luister, wat ernstige skade aan die ore veroorsaak.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie skat dat een uit elke twee jong volwassenes die risiko loop om gehoorverlies te ontwikkel.
Dink net aan die erns daarvan – 50% van die jeug sal waarskynlik gehoorskade ontwikkel.
“Die faktore wat die risiko van gehoorverlies verhoog, is ’n kombinasie van hoe hard die klank is en hoe lank jy daarna luister,” sê prof. Swanepoel.
“Jy kan na jou gunstelingliedjie op ’n harde volume luister, maar dit daarna na ’n meer gemaklike vlak afdraai. Skade aan jou ore is permanent en onomkeerbaar.
“Daarom is dit so belangrik om goed na jou gehoor om te sien sodat jy dit ’n leeftyd lank kan geniet.”
Dit is noodsaaklik dat voorkomende maatreëls getref word om die risiko’s van gehoorverlies gedurende hierdie tydperk te verminder:
* Hou die volume laag.
* Gebruik oordoppe in uiters lawaaierige plekke.
* Beperk die hoeveelheid tyd wat jy aan lawaaierige aktiwiteite bestee.
* Monitor klankvlakke met selfoontoepassings.
* Laat jou gehoor gereeld toets deur ’n gehoorgesondheidspraktisyn te besoek.
Gehoor is ’n gawe. Dit verbind ons met die mense vir wie ons lief is en maak dit moontlik om na ons gunsteling musiek te luister.
Om afgesny te word van die klanke wat ons liefhet, kan verwoestend wees. Daarom moet ons met sorg luister om lewenslank te kan hoor.
Kontak gerus enige van die JJC Kruger-takke in die Vaal:
Vereeniging – 016 423 3553
Hoek van Bashee- en Umgenistraat, Drie Riviere, Vereeniging
Vanderbijlpark – 016 981 0328
Cormed-perseel, Suite 1, Medquant-gebou
Hoek van Pasteur- en Hertz-boulevard
- Inligting en foto verskaf deur JJC Kruger
