NewsNews

Yolandie is nou Eureka se alles in een

Eureka Skool se nuwe bemarker is vuur en vlam vir 'n jaar vol avonture

VEREENIGING – Sy het verlede jaar aansoek gedoen vir ‘n finansiële pos by die Eureka Skool, maar toe kontak skoolhoof Johan Erasmus haar en vra of sy nie eerder die bemarkerspos wil hê nie?

So gesê, so gedaan. Yolandie le Roux het in die diep kant ingespring en begin swem. Eureka Skool het elke jaar verskeie groot funksies en dae en sy het groot skoene om vol te staan.

Dan is sy boonop die hoof se persoonlike assistent. Dit lyk nie of die werksdruk haar enigsins vang nie.

Sy gesels rustig in die kantoor. Vertel van haar jare as Laerskool Unitaspark se kantoortannie waar sy, onder andere, Del Arte vir driejaar georganiseer het en die skool se voedingskema bestuur het.

Sy is trots op haar seun wat tans vir NWU se eerste span uitdraf en haar dogter wat met ‘n onderwysbeurs swot.

Wanneer die skool se ratte aan die gang is, is Yolandie ‘n besige by. Haar lys van belangrike datums en bygaande notas maak reeds lêers vol.

Sy dink vinnig op haar voete en sien elke geleentheid raak waar sy moontlik ‘n ietsie ekstra vir die skool kan kry.

Gelukkig is daar elke jaar darem ook die stil tye. Die tye waar die gesin kan koers kies Haroldsbaai toe en net kan wees.

“Dis my go to place,” erken sy, en vir ‘n oomblik lyk dit haar gedagtes is daar waar die branders breek.

Net vir ‘n oomblik. “Onthou nou, huissport Woensdag, Donderdag en Vrydag. Vrydag is die swemgala ook aan die gang,” por sy aan.

Sy mag dalk nog nie so lank hier wees nie, maar dis duidelik dat Eureka se kinders met hul fisieke en verstandelike gestremdhede reeds diep onder haar vel ingekruip het.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button