Destinata Skool skitter by Sedibeng-Oos Toekennings
By Destinata word dinge anders gedoen en die resultate is uitstekend
MEYERTON – Destinata Skool is ‘n dubbelmedium laer en – hoërskool vir kinders met spesiale leerbehoeftes.
‘n Departementele skool wat die gewone kurrikulum volg, maar hier is die klasse baie kleiner, individuele behoeftes word aangespreek en daar is ‘n hele vleuel van terapeute.
Elke onderwyser, departementshoof, terapeut, suster en hul eie opvoedkundige sielkundige doen alles vir die leerlinge met passie en met hart.
Geen wonder hulle het Maandag drie toekennings by die Gautengse Departement van Onderwys se SedibengOos Distrik ontvang nie.
Juffrou Izandri Aucamp het ‘n sertifikaat van uitmuntendheid gekry vir Afrikaans Eerste Taal. “Ek geniet my werk,” haar glimlag breed, haar oë skitter.
Die skool het ook twee sertifikate vir uitmuntendheid gekry omdat hul ‘n 100% matriekslaagsyfer in 2025 gehad het en vir hul konsekwentheid.
Hulle het verlede jaar 31 matrieks gehad, met 10 onderskeidings en80% het geslaag met universiteitsvrystelling. Voorwaar ‘n prestasie om op trots te wees.
