Local newsNewsNews

Emfuleni op rand van finansiële en institusionele ineenstorting

'Emfuleni verkeer in ’n toestand van ernstige finansiële nood, swak bestuur, gebrekkige interne beheer en voortdurende diensleweringsmislukkings'.

Raadslid Gerda Senekal van die VF-Plus in ELM het verwys na die ouditeur-generaal (OG) se verslag oor die ELM se 2024/25-begrotingshersiening.

Ten spyte van beperkte vordering met ou ouditbevindinge, bly die munisipaliteit se oudituitkoms gekwalifiseerd.

“Die finansiële state toon wesenlike wanvoorstellings en herhalende beheerfoute. Emfuleni funksioneer met ’n onbefondsde begroting en ’n akute kontantvloeikrisis wat dit onmoontlik maak om korttermynverpligtinge na te kom.

“Die verslag wys ook op skokkende skuldvlakke. Die skuld aan Eskom en Rand Water beloop saam R9,19 miljard, terwyl waterverliese van 57% gelykstaande is aan byna R2 miljard,” sê Senekal.

“Onreëlmatige, ongemagtigde en vermorste uitgawes beloop meer as R7 miljard wat ‘n duidelike teken is van sistemiese wanbestuur en ’n gebrek aan aanspreeklikheid”.

Sy sê verder die VF Plus stem saam met die OG dat aksieplanne óf stadig óf glad nie geïmplementeer word nie en dat gevolgbestuur grootliks afwesig is. Alhoewel vyf wesenlike onreëlmatighede formeel “opgelos” is, bly die beheeromgewing broos en onbetroubaar.

Dienslewering ly direk onder hierdie wanorde.

Slegs 67% van prestasie-aanwysers is bereik, met groot dele van die prestasie-inligting wat onbetroubaar of swak gedefinieer is.

Kritieke infrastruktuurprojekte, veral riool, stormwater en elektrisiteit, bly vertraag met ernstige gevolge vir inwoners.

“Noodsaaklike poste bly onbeset, vaardigheidsoordrag vind nie plaas nie, en die IT-omgewing is chaoties sonder strategie, beheer of rampherstelplanne. ’n Bedrag van R26,3 miljoen is reeds aan konsultante betaal vir finansiële verslagdoening,” sê Senekal.

“Hierdie verslag laat geen ruimte vir verskonings nie. Emfuleni se krisis spruit nie uit ’n gebrek aan hulpbronne nie, maar uit ’n gebrek aan politieke wil, dissipline en aanspreeklikheid,” sluit sy af.

Die VF Plus dring aan op:

  • Onmiddellike stabilisering van bestuurs- en tegniese kapasiteit
  • Streng monitering en afdwinging van oudit-aksieplanne
  • Sigbare en vinnige gevolgbestuur vir alle onreëlmatige, ongemagtigde en vermorste uitgawes
  • Realistiese, ten volle befondsde begrotings wat op herstel fokus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button