Die een se dood is ander se politieke brood
Januarie 2026 sal vir al die verkeerde redes onthou
Die een se dood is ‘n ander se brood. Hierdie geykte gesegde het vir verskillende mense verskillende betekenis. In hierdie geval is dit letterlik so.
Die jaar 2026 sal as een van die onstuimigste en hartseerste jare in die Vaaldriehoek se bestaan onthou word.
‘n Tragiese verdrinking onder raaiselagtige omstandighede en die sinnelose dood van 14 skoolkinders op pad skool toe.
Die storm wat losgebars het rondom die twee gebeure is beslis verstaanbaar. Die gemeenskap is emosioneel en seer.
Baie mense se optrede en besorgdheid is opreg, maar dan is daar die ander groepe en individue. Die wat die “brood” verslind vir hul eie behoeftes en selfsugtige redes.
Daar is diegene wat smartvrate is, wat dit geniet om die kollig te steel en op ander se smart te teer.
Dan is daar die politici wat tragedies as ‘n politieke speelbal en trekpleister gebruik om hulle narratief te bevorder.
Padblokkades word opgerig waar talle busse, taxis en skoolvervoer gestop en nagegaan word.
Burgemeesters, ministers, LUR’e en parlementslede, en selfs die staatspresident raak betrokke.
Bekommernisse word uitgespreek, ondersoeke word gedoen en bevele word uitgedeel. Soos die stof gaan lê, gaan die lewe sy gang.
Dit is ou nuus en ou gebeure wat net nou en dan weer afgestof gaan word.
Dis die realiteit, life goes on. Daar is niks daarmee verkeerd nie.
Maar in die aanvanklike fase van rou, veral in gevalle soos hierdie, waar ander se optrede moontlik aanleiding tot die betrokke persoon(e) se dood gee, word daar antwoorde en ‘n skurk in die verhaal gesoek.
Maar ons vergeet vinnig dat ons selektiewe sondaars is. Die meeste sondes wat ons doen is die waarmee ons gemaklik is. Sondig iemand iets waarmee ons nie gemaklik is nie, gaan ons te kere.
Dit om ons eie sondes, foute en gebreke te verbloem. Maar reg is reg. As iemand oortree het moet hulle gestraf word.
Ja, mens jaag nie roekeloos rond wanneer jy kinders vervoer nie, maar mense wat in glashuise woon moet nie klippe gooi nie.
Hoeveel van ons het al ‘n stopstraat soos ‘n toegeeteken gebruik? Wie het nog nooit effe beskonke agter ‘n stuurwiel ingeskuif nie? Ek vra maar net. En ja, mens moet appels met appels vergelyk.
Hierdie is maar net stof tot nadenke. Staan sterk
