Nuwe ampsmotor vir Emfuleni-burgemeester gestuit
Die voorgestelde aankoop van ’n nuwe ampsmotor is ná beswaar in die raad gestop.
VANDERBIJLPARK – Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) sê hy het tydens die jongste raadsvergadering van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit beswaar aangeteken teen ’n voorstel om ’n nuwe ampsmotor vir die burgemeester aan te koop.
Volgens die party het die speaker van die raad, Sibongile Soxuza, voorgestel dat ’n nuwe voertuig aangeskaf word, ondanks Emfuleni se ernstige finansiële uitdagings.
Volgens Gerda Senekal, ‘n VF Plus-raadslid in die Emfuleni Plaaslike Muinisipaliteit het die VF Plus het daarop aangedring dat die item terugverwys word en dat ’n dienssertifikaat vir die huidige ampsmotor, ’n 2022 BMW X3, eers aan die raad voorgelê word voordat enige besluit geneem word.
Die VF Plus het ook aangevoer dat dit onprakties en onverantwoordelik sou wees om so ’n aankoop te oorweeg met plaaslike regeringsverkiesings wat nader kom. Toe dit blyk dat die voorstel met die steun van die ANC en koalisievennote goedgekeur sou word, het VF Plus-raadslede die raadsaal in protes verlaat.
Kort daarna het die speaker sy standpunt hersien en ingestem dat ’n dienssertifikaat vir die bestaande voertuig aangevra word, soos deur die VF Plus versoek.
Senekal sê die voorval beklemtoon volgens hulle ’n gebrek aan prioritisering binne die munisipaliteit. Emfuleni het tans ’n uitstaande skuld van sowat R6,7 miljard aan Eskom en Rand Water en ervaar volgens die VF Plus maandelikse druk om salarisse en diensverskaffers te betaal.
Die VF Plus meen die raad behoort eerder op finansiële stabiliteit en dienslewering te fokus as op die aankoop van nuwe ampsvoertuie. Die party het aangedui dat hulle sal aanhou toesien dat besluite wat finansiële implikasies het, deeglik gemotiveer en verantwoord word.
