Local newsNewsNews

Rubriek: Wagkamer-wyshede en die prys van perfeksie

'n Nuwe en gevorderde weergawe Fortuner-mamma het sy verskyning gemaak

Om vreemdelinge se gesprekke per ongeluk af te luister is waarskynlik een van die lekkerste sondes. Veral as jy die verskoning kan voorhou dat daar geen ander uitweg was nie.

Veral nie as jy in ʼn patoloog se spreekkamer sit en wag nie. Ek het al baie Fortuner-mammas in my lewe gesien.

Ja, julle ken hulle… daardie mammies wat heeldag in hul stywe gimklere of yoga-mompelbroekies rond paradeer wanneer hulle hul spruit by die skool kom op- en aflaai.

Maar dit lyk asof daar ʼn nuwe subspesie Homo Sapiens Neanderthalensis Landcruiser Prado of ʼn 2.0-opgradering in ons midde is.

So gebeur dit dat ek doelloos op my foon sit en scroll terwyl ek wag om my bloed te laat trek. Die deur swaai oop en twee Fortuner-mammas, ʼn blondine en ʼn brunette, stap al kekkelend by die deur in.

Hulle is gebou soos ‘n pou en ja jy’t reg geraai, hulle het gimklere aan. Benewens die personeel is daar seker vier pasiënte voor hulle.

Na ʼn kort gesprek oor watter hormone, feromone en dergelike dinge, gryp die blondine haar foon en bel ʼn ander spreekkamer om te hoor hoe vol hulle is.

Die dame is beslis nie gewoond of lus vir wag nie. Die ander spreekkamer is ook maar vol, so sy moet maar saam met die gepeupel geduldig sit en wag.

Hoewel ek selektiewe doofheid oorweeg het, is dit bykans onmoontlik om nie na die gesprek te luister nie. Hulle fluister immers nie. Die hele spreekkamer maak asof hulle doof is.

Hulle bloedtoetse is nie vir werklik mediese redes nie, dis om hemoglobienvlakke, hormone, lipides en nog meer te laat toets.

Al wat daaroor gepraat word is oefenroetines, slaappatrone, keto diëte en nog meer. Ai, die stryd van eerste wêreldse probleme is tog so erg!

Kyk om saam te oefen en koffie te drink is een ding, maar die simbiotiese-behoefte om bloed saam te laat trek gaan my verstand te bowe.

Is dit ʼn nuwe trend? So gepraat van trend moet ek eers bieg dat ek nie groot daarop is om op die bandwagon te spring nie.

Ek het egter die nuwe karikatuur-foefie bitter baie geniet. Miskien moet die 2.0-mammas ʼn selfie van hulle wat bloed trek in ʼn karikatuur laat omskep om die oomblik te verewig. Dit sal nuwe betekenis aan die term Bloed Susters gee!

Terwyl ek gewond by die spreekkamer uitloop en die deur toe trek, staan die tweetjies op vir hulle beurt en ek dink by my selwers…

Om ʼn trofee-vrou te wees moet harde werk wees. Jy moet konstant oefen, jou gewig dophou en nuwe maniere vind om die skade wat Vadertyd en selluliet aanrig teen te werk.

En dit alles sonder dokter se orders! Klink vir my na te veel werk!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button