Local newsNewsNews

Bek-en-klouseerkrisis: Boere verloor vertroue in departement van landbou

Opname toon groot ontevredenheid oor reaksie op bek-en-klouseer en swak entstofbestuur.

‘n Onlangse peiling deur die landbou-organisasie Saai toon dat die vertroue van boere in die politieke en administratiewe leierskap van die Landboudepartement ernstig geskaad is te midde van die aanhoudende bek-en-klouseerkrisis.

Die opname, waaraan meer as 2000 boere deelgeneem het, toon dat meer as 95% van die respondente meen dat die departement se reaksie op die siekte te stadig was, dat die verspreiding van entstof swak bestuur word en dat kundiges nie voldoende by besluitneming betrek word nie. Byna 87% van die boere sê leierskap het gefaal.

Terwyl veeboere wag op entstowwe wat teen die einde van Februarie uit Argentinië en Turkye verwag word, waarsku kenners dat dit waarskynlik te laat is om die siekte suksesvol te beperk. Die fokus is nou om die skade soveel moontlik te beperk.

Die ministeriële taakspan wat reeds in 2016 aangestel is om die moontlike impak van ‘n bek-en-klouseer-uitbraak te ondersoek, het reeds destyds dringendheid aanbeveel. Hierdie dringendheid het eers in 2026 werklik in die departement se reaksie begin weerspieël.

Volgens Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder vir landbou, toon die situasie ‘n “ineenstorting van bestuur” in die departement. Hy sê dit is ondenkbaar dat dieselfde amptenare wat die departement deur die krisis bestuur het, die land nou uit die situasie kan lei.

In ‘n onderhoud met Rapport het minister van Landbou, John Steenhuisen, erken dat sy departement hom en die parlement mislei het oor die vordering met die vervaardiging van entstof en oor die vermoë om die siekte te bestry. Volgens die minister het die tekortkominge in beide administrasie en politieke beheer gelei tot ‘n situasie wat oorspronklik tot enkele streke beperk kon word, maar nou wydverspreid is.

Die VF Plus het gesê die minister moet verantwoordelikheid neem vir die byna twee jaar van sy eie administrasie en dat senior amptenare hul volgehoue diens moet motiveer of die departement moet verlaat.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button