Ek sê maar net.. Dié oase was ‘n lafenis vir my siel
RUBRIEK - Ek sou nie omgee om elke wille werksdag hier te kom vertoef nie.
RUBRIEK – Dinsdag jaag ek weer soos ‘n mal mens van bakboord na stuurboord om al my onderhoude ingepas te kry. Dis nou maar ‘n Dinsdag-ding.
Teen 13:30 stop ek hoog gestres voor die Siësta/Herfsoord-hek. Die sekuriteit doen hul werk, maar baie stadig, en kyk my wantroulik aan toe ek sê ek moet ‘n onderhoud gaan doen.
Gelukkig kom oordbestuurder Charlene verby en sy beduie hulle moet my laat deurgaan.
Ek stop en haas my na binne.
Steek vas. Waar moet ek nou die maatskaplike werker kry? Hy kom gelukkig net op daardie oomblik om die hoek met ‘n tannie in ‘n rolstoel.
“Gerda, stap saam. Dan wys ek jou ons nuwe eenheid.” Die nuwe demensie-eenheid het onlangs oopgemaak.
Ek stap saam en is stomgeslaan. Die kleurvolle kamerdeure, die helder prente teen die mure is vir my te mooi.
Met die tannie veilig in die kapel waar die Bybelstudie gaan begin, neem Francois my op ‘n verdere toer.
By baie gemaklike leerstoele verby, na ‘n klein tuintjie met ‘n fontein in die middel.
“Het julle borge gekry?” snak ek oor al die mooi en sensories gelaaide bykomstighede oral.
“Nee, hier is 19 jaar gespaar vir die eenheid”, sy antwoord.
Ons stop by die fonteintjie. “Weet jy, hier is ‘n tannie met demensie. Sy het nie meer gepraat nie. Tot die dag wat ons haar hier by die fontein laat sit het.
“Sy het haar hand deur die water getrek vir lank en toe begin sy gesels. Sy het nog nie weer ophou praat nie,” vertel hy trots.
Wow! Net wow! Soos ons aanstap, raak ek ook rustiger. Teen die tyd wat ons sit kry in sy kantoor, glimlag ek selfs. Stres vergete.
Ons lag. Ons kuier en so nou en dan onthou ek om ‘n nota te vat. Met die uitloopslag bewonder ek eers weer die helder deure en die mooi geverfde mure.
My stresvlakke het so ver gesak dat ek selfs met die sekuriteit by die hek kan grappies maak.
Ek weet nie wie se meesterplan daardie eenheid was nie. Al wat ek kan sê is: Knap gedaan. Sela!
