
VANDERBIJLPARK – ’n Vroulike werknemer van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit is gistermiddag in wat blyk ’n geteikende sluipmoord te wees, helder oor dag in Frikkie Meyer-boulevard doodgeskiet.
Luidens voorlopige verslae het Mani Rantsofu (39) by die onderneming gewag toe ’n onbekende man haar trompop geloop en haar sonder waarskuwing vyf keer in die kop geskiet het.
Sy was enkellopend en het ook nie kinders nie.
Vlugmotor gesoek
Die skieter het na die aanval gevlug na ’n wagtende motor, ‘n blou Volkswagen Polo, en weggejaag. Daar is nie duidelikheid of iemand anders die motor bestuur het nie.
Hoewel die sekuriteitskameras by die toneel ongelukkig onduidelike beelde vasgelê het, is daar hoop dat naburige besighede of sekuriteitsfirmas in die besige omgewing waardevolle beeldmateriaal van die moord en vlugmotor kan verskaf.

Slagoffer
Die oorledene was ’n bekende personeellid by ELM se finansiële afdeling. Sy was daagliks in kontak met die publiek waar sy inwoners gehelp het met die munisipaliteit se skuldafskrywing projek.
“Dit is ’n tragiese verlies. Sy was ’n pragtige jong vrou, van binne sowel as buite. Sy was vir meer as 10 jaar ’n gewaardeerde werknemer by die ELM (Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit). Ons is platgeslaan,” sê Hassan Mako, LUR vir Finansies.
Hy is ook van mening dat dit ’n berekende aanval blyk wees. Daar is nie gemeld dat enigiets gesteel is nie en die aanvaller het reguit op sy teiken afgestuur.
“Daar is egter onsekerheid of die moord werksverwant of persoonlik van aard is. Ons moet vertrou dat die SAPD die saak noukeurig sal ondersoek en antwoorde sal vind,” sê Mako.
Die gebied was ten tyde van die voorval besig, en die polisie doen ’n beroep op enige getuies wat moontlik die motor of die skieter gesien het om na vore te kom.
