SASOLBURG – Ousus Ansumé de Beer van Boland Atletiek het op die laaste dag van die SA Ouderdomsgroep Kampioenskap in Germiston geskiedenis gemaak toe sy met ‘n sprong van 4.18 m die SA o20-paalspringrekord verbeter het.
Kleinsus Caprivi is ook ‘n ontluikende atletiekster wat in ousus se voetspore volg. Albei is oud-leerlinge van Vaalpark Primêr.
(‘n Berig wat op Caprivi fokus verskyn ook binnekort op Vaalweekblad se webtuiste)
Dit was egter ousus wat onlangs die kollig gesteel het toe sy nie net die nuwe rekord opgesel het nie, maar ook haar eie Afrika o20-rekord met 2cm verbeter het.
Dit het egter jare se harde oefening en opoffering gekos om nou die vrugte te pluk. Ansumé het as graad agt-leerling paalspring as sport opgeneem en afrigting by Hennie Els (Sasolburg Paalspring Akademie) ontvang.

Haar talent kon nie misgekyk word nie en het sy aan die einde van haar graad agt jaar ‘n sportbeursdeur Endurocad by Hoerskool Stellenbosch aangebied. Sy het die geleentheid aangegryp en sedertdien laat sy nou die rekords tuimel.
Nadat sy in graad 10 die SA Kampioenskappe gewen het, was sy gekies om SA te verteenwoordig in Zambia by die CAA African Games. Sy het met ‘n goue medalje huistoe gekeer.
In graad 12 was sy weer die kampioen by die SA’s en weer gekies om SA te verteenwoordig in Nigerië by die CAA African Games waar sy ook met ‘n goue medalje weggestap het.
Sy word reeds die afgelope twee jaar deur Louis Nienaber, hoof van Boland en Stellenbosch Paalspring Akademie, afgerig. Sy 40 jaar ondervinding in paalspring, as atleet en afrigter, spreek boekdele.
Danksy die hoogtes (letterlik en figuurlik) wat Ansumé behaal het, het sy besluit om nie verder te studeer nie, maar professionele atleet te word.
Sy het ‘n kontrak van Henk Botha van Botha Sports Agency in Namibië ontvang. Sy het ook ‘n aanbod aanvaar wat Endurocad haar aangebied het, wat haar weg tot die Olimpiese Spele sal help uitbaan.
Maar soos in enige sport, is daar soms beserings. Ansumé het in Januarie ‘n graad 2 skeur op haar quad spier beseer. Na twee weke se behandeling het sy weer begin deelneem, maar die besering vererger.
Na vyf weke se intense behandeling was sy weer gereed om die atletiekbaan aan te durf. Dit was by die SA Kampioenskappe waar sy die 22-jaar-oue rekord laat kantel het.

Sy het die rekord van 4.05m na 4.18m verbeter. Ansumé se persoonlike beste is 4.21m wat sy verlede jaar November in Stellenbosch gespring het, maar dit kon ongelukkig nie as ‘n rekord erken word nie, omdat die byeenkoms nie op die Wolrd Athletics se kalender is nie.
Ansumé is nou besig om voor te berei vir die die SA senior kampioenskappe wat op 17 April by die Coetzenburg-stadion in Stellenbosch plaasvind.
Sy het ook reeds kwalifiseer en is op die voorlopige spanlys vir die Junior Wêreld Kampioenskappe wat in Oregan in die VSA plaasvind van 5 tot 8 Augustus.
