Local newsNews

Ek sê maar net… Maan-loop in die swembad

RUBRIEK - Ek dink dit was nogal iets om te sien. My gesukkel om te maan-loop in die swembad. Gelukkig was daar nie 'n kamera naby nie Lees meer...

RUBRIEK – Elke week gaan ek oefeninge doen in ʼn verhitte swembad onder die wakende oog van ʼn biokinetikus. Vir beter balans en die klas van dinge. My skroefvoet is nie altyd gewillig op land nie.

Donderdag is my biokinetikus op ʼn kamp en sy kollega hou ʼn oog oor my in die swembad. Albei van hulle het verlede week graad gevang en is lief daarvoor om die oefeninge bietjie meer uitdagend te maak.

So is daar die blou bordjies. Ek dink dis wat gebruik word vir kinders om aan vas te hou as hul leer skop in die swembad. Ek het al geleer om die bordjie, met baie moeite, onder die water vas te trap en dan op een been te balansseer terwyl ek die ander voet lig.

Donderdagmiddag het Juandrê egter ʼn ander plan. Hy gee twee bordjies aan. “Trap albei vas en dan loop jy van kant tot kant. Hoë knieë,” deel hy die opdrag uit.

Ek stry nie met ʼn biokinetikus nie, maar in my kop dink ek die kind voel seker nie wel nie. So, sukkel ek albei bordjies onder die water in en kry een onder elke voet.

Konsentreer dat my tong uithang. Lig voet met bordjie en al en tree vorentoe. Nou die ander een. Die blou gevaarte vlieg onder my voet uit en tref my met ʼn splash in die gesig. Die goed is gemaak om te dryf, nie om op te loop nie!

Ek probeer weer. “One small step for man, one giant leap for mankind,” klink die befaamde eerste-op-die-maan stapper, Neil Armstrong se stem skielik in my kop. Ek raak aan die lag, want ek is seker dis hoe dit moet voel as jy op die maan loop.

Kry die aksie uiteindelik reg, maar moet bieg; die bordjies het meer as een keer van onder my voete met ʼn boog uitgespring en dan tartend buite my bereik gedryf.

Gedoen het ek dit gedoen. Het natuurlik die hele langnaweek seer spiere gehad, want die maan-lopery onder die water werk toe nie net op die voete nie. Tot my maagspiere was seer.

Tipies biokinetikus toe ek kla my spiere gaan seer wees, was Juandé se enigste kommentaar: “Ek maak seker my pasiënte onthou my die hele naweek.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button