VANDERBIJLPARK – Hoërskool Transvalia se sportvelde het die afgelope naweek behoorlik gekook toe dié skool gasheer gespeel het vir die NWU Skolesportreeks se semi-finale.
Die hoogtepunt van die naweek was ongetwyfeld Saterdag se hoofwedstryd, waar Valia se eerste rugbyspan die besoekers van Hoërskool Eldoraigne met 38-31 getroef het.
Die tuisspan het die kragmeting op ’n droomnoot begin. Die agsteman, Matthew van Niekerk, het binne die eerste vyf minute van die eerste helfte die telbord geopen met ’n pragdrie wat die toon vir die wedstryd gesit het.
Kort daarna was die “Bloues” vuur en vlam en het die besoekers met nog twee blits-drieë verras.
Hoewel dit aanvanklik gelyk het of Valia op pad was na ’n wegholoorwinning, het die manne van Eldoraigne nie gaan lê nie.
In die tweede helfte het die besoekers verbete teruggeveg en die voorsprong laat krimp, wat gesorg het vir ’n naelbyt-einde.
Ten spyte van die druk het Valia koel kop gehou, en topklas rugby opgedis om die wedstryd in hul guns te beklink.

Ander uitslae:
o14A verloor 17-7 vs Menlopark
o14B wen 21-19 vs Menlopark
o15A wen 19-0 vs Eldoraigne
o5B wen 26-12 vs Ben Vorster
o16A wen 40-19 vs Ben Vorster
o16B wen 14-13 vs Eldoraigne
2des wen 29-0 vs Eldoraigne




