VANDERBIJLPARK – Vir die pragtige Khanya Venter het dié droom egter ’n glansryke werklikheid geword nadat sy onlangs as die nasionale wenner van die gesogte Bruidgids & Wedding Guide se Bruid van die Jaar-kompetisie aangewys is.
Khanya (29) is ’n bekende gesig in plaaslike kringe en ’n sprekende voorbeeld van ’n Vaaldriehoeker wat vir die sterre mik.
Haar leierskapspad het reeds vroeg begin as hoofdogter van Laerskool Emfulenipark, gevolg deur haar termyn as voorsitter van Hoërskool Transvalia in 2015.
Sy was ook nie net ’n akademiese uitblinker met agt onderskeidings in matriek nie, maar ’n kranige sportvrou wat vir die eerste netbalspan uitgedraf het en kaptein van skool se cheerleaders was.
Vandag dra sy die titel van geoktrooieerde rekenmeester (CA), ’n graad wat sy aan die NWU Potchefstroom verwerf het voordat sy haar klerkskap by Deloitte voltooi het.
Sy en haar man, Heino Venter (ook ’n oud-Valia en tans ’n metallurgiese ingenieur) het hulle intussen in Middelburg gevestig, maar hul wortels lê steeds diep in die Vaal.

Seremonie en onthaal
Hul sprokieshuwelik het plaasgevind by die eksklusiewe Palala Boutique Game Lodge & Spa op die grens van Suid-Afrika en Botswana.
Die omgewing was niks minder as magies nie. In die kapel het ’n massiewe ystervenster oopgeswaai op ’n sestig jaar oue kremetartboom, wat as die perfekte agtergrond vir hul ewigdurende beloftes gedien het.
Die onthaal was ’n sintuiglike bederf. Gaste is na die seremonie na ’n “canape-eiland” in die middel van die rivier geneem, waar die klanke van marimba-spelers die Afrika-tema lewe gegee het.
Daarna is voortgekuier in die onthaalsaal in die hartjie van die bosveld.

Bosveld-paradys
Vir die familie het die feesvieringe reeds die Woensdag voor die troue begin. In hierdie bosveld-paradys kon hulle smul aan sewe-gang-maaltye by kerslig, die sonsondergang tydens wildritte bewonder en in die lodge se bekroonde spa ontspan.
“Ten spyte van die groot skaal van die geleentheid, was die atmosfeer op die troudag self een van uiterste vrede. Dit was magies, tasbaar en heilig,” sê Roxy, Khanya se ma.
“My dogter is bekend vir haar energie, maar was op die dag ‘n beeld van kalmte. Sy het die hele dag lank gestraal,” borrel ma Roxy oor van trots.
Dit is duidelik aan elke aspek van die troue, van die venue tot die stylvolle bruid, dat Khanya nie net ‘n tien uit tien van die beoordelaars van die kompetisie gekry het nie, maar ook van almal wat die voorreg gehad het om die dag saam met hulle te beleef.
