VANDERBIJLPARK – ’n Eiendomseienaar wat bome op ’n hoek-erf by Beethovenstraat en Rembrandtstraat in SW5 verwyder het, het tot skade aan munisipale infrastruktuur en toenemende kommer onder plaaslike inwoners gelei.
Volgens Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se Wyksraadslid vir Wyk 5, Maureen Dosoudil, is twee graafmasjiene op die eiendom aangewend om verskeie bome te verwyder.

Die erf beskik oor ’n wye munisipale serwituut, wat kommer laat ontstaan het dat sommige van die verwyderde bome moontlik aan die munisipaliteit behoort het.
“Terwyl die bome verwyder is, is ’n waterpypleiding en ’n elektriese kabel beskadig. Dit het verskeie strate in die area geraak en inwoners vir minstens ’n dag sonder water en vir twee dae sonder elektrisiteit gelaat,” sê Dosoudil.
Sy het bevestig dat die voorval by die Parke-afdeling aangemeld is, om vas te stel of munisipale bome verwyder is.
“Die boete vir die verwydering van munisipale bome is tans slegs R300 per boom. Ek vra al lank dat hierdie boetes in ons verordeninge hersien word, want dit is veels te laag,” het sy bygevoeg.

Openbare Werke, Metsi-a-Lekoa en die Elektrisiteitsafdeling het reeds die terrein geïnspekteer. Die munisipaliteit beplan om die eienaar aan te slaan vir die herstel van die water- en elektrisiteitslyne..
Inwoners word verplig om ’n toestemming te kry voordat enige uitgrawingswerk gedoen word, maar volgens Dosoudil is geen toestemming vir hierdie werk verkry nie. Die saak word tans intern opgevolg.
Daar doen ook verskeie gerugte die rondte oor die eienaar se planne vir die erf. “Onbevestigde gerugte dui daarop dat die eienaar ’n motorverkoopperseel wil oprig, terwyl ander beweer hy wil ’n muur bou,” sê Dosoudil.
Volgens haar berus die onus by die eienaar om toe te sien dat die grenslyne van sy erf gerespekteer word. Geen aansoeke vir hersonering of sloping van geboue is tans by die munisipaliteit ingedien nie.
Inwoners is veral bekommerd oor die moontlikheid van ’n motorverkoopperseel in die woongebied.
“Hoewel ’n mens nie elitisties wil wees nie, is SW5 bedoel as ’n hoë waarde residensiële area, en ’n motorsverkoopsperseel word as onvanpas beskou,” sê Dosoudil.
Sy wys daarop dat daar reeds ’n ondersoek aan die gang is oor nóg ’n motorsperseel aan die ander kant van Beethovenstraat, op die hoek van Frikkie Meyer-boulevard.
“Die sakemense woon self in gegoede woonbuurte, maar kom dan na SW5 om besighede op te rig wat ’n negatiewe invloed op die residensiële karakter van die buurt het en eiendomswaardes kan verlaag,” sê sy.
Die sake ter sprake word glo deur die munisipaliteit ondersoek.
