VANDERBIJLPARK – Die nuutste hofuitspraak in die Pretoria Hooggeregshof teen die Minister van Landbou en verskeie staatsinstellings het groot golwe in die plaaslike landbougemeenskap veroorsaak, veral ná weke van toenemende spanning oor bek-en-klouseer (BKS) in die Vaaldriehoek en omliggende gebiede.
Die landbou-organisasie Saai het Maandag, 25 Mei ’n verklaring uitgereik waarin hulle die uitspraak as ’n oorwinning vir elke vee- en wildboer in Suid-Afrika beskryf.
Volgens Saai bring die beslissing ná meer as ’n jaar se wegholverspreiding van ’n staatsbeheerde siekte uiteindelik hoop dat die privaatsektor se betrokkenheid die kapasiteit kan bied om BKS beter te bestuur.
Vaalweekblad het vroeër berig dat plaaslike boere en rolspelers tydens ’n vergadering by Hersa Afslaers in Lochvaal hul ernstige bekommernis uitgespreek het oor die impak van BKS en die uitdagings rondom die staat se voorstelle vir bewegingsbeheer.
Provinsiale veeartse het bevestig dat verskeie gebiede reeds deur uitbrekings geraak word, onder meer Viljoenskroon, Vredefort, Parys, Deneysville, Sasolburg en Frankfort.
Hierdie gebiede val almal binne die ekonomiese en logistieke invloedssfeer van die Vaal, waar baie boere handel dryf en hul vee laat veil.
In sy uitspraak het regter Van der Westhuizen bevind dat die minister en senior amptenare nooit ’n geldige verweer gehad het nie en dat hul traagheid met die goedkeuring van ’n privaatsektor-geleide inentingsveldtog maande se skade aan boerderye veroorsaak het.
Volgens Saai het honderde boerderye landwyd reeds gestruikel of vernietig weens die vertraging.
Die organisasie beskryf die beslissing as ’n oorwinning teen sentralisering van mag in ’n staat wat lankal nie meer die vermoë het om veesiektes doeltreffend te bestuur nie, en teen strukture wat volgens hulle eerder kaderbelange as boerbelange beskerm het.
Intussen het die Vrystaatse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling bevestig dat daar reeds 291 aktiewe BKS-gevalle in die provinsie aangemeld is, een van die grootste uitbrekings tot dusver.
Dit plaas verdere druk op boere in grensgebiede wat gereeld vee tussen die Vrystaat en Gauteng verhandel, insluitend baie produsente in die Vaaldriehoek.
Plaaslike boere sê hulle hoop die hofuitspraak sal nou vinniger toegang tot entstowwe, duideliker riglyne en meer realistiese administrasie van veeverskuiwings meebring, en dat die komende weke sal wys of die uitspraak werklik ’n keerpunt in die geveg teen BKS is.
