Honderde betoog teen onwettige immigrante in Vanderbijlpark
Honderde betogers marsjeer vreedsaam by die Vanderbijlpark-burgersentrum.
VANDERBIJLPARK – Honderde inwoners van die Vaal het by die sentrale sakekern saamgedrom om teen onwettige immigrante te betoog.
Verskeie kleiner groepe uit verskillende woongebiede regoor die streek het kragte saamgesnoer en Vanderbijlpark feitlik tot stilstand gebring.
Die betogers het die oggend deurgebring met sang, dreunsange en plakkate en knopkieries gedra. ’n Swaar polisieteenwoordigheid, saam met verskeie private sekuriteitsmaatskappye, het saamgewerk om wet en orde te handhaaf en diegene te beskerm wat nie aan die grootskaalse betogings deelgeneem het nie.
Tydens die betoging het sommige groepe ’n memorandum aan die bestuur van die Suid Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig.
Gemeenskapsleiers en inwoners het diepe frustrasie uitgespreek oor stygende misdaad en dwelmverkope.
Een naamlose gemeenskapsleier het gesê hulle neem hul strate terug nadat hul bekommernisse vir te lank geïgnoreer is.
In sy gesprek met Vaalweekblad tydens die betogings het hy gesê: “Ons lspreek hierdie kwessies al lank aan sonder reaksie. Vandag is ons hier om te sê genoeg is genoeg. Ons staan in solidariteit met die hele land in die oproep vir die verwydering van onwettige immigrante in ons streek. Mabahambe [Laat hulle gaan],” het hy gesê.
Betogers het ook hul vrese uitgespreek oor die impak van misdaad op die jonger geslag.
Nthabiseng Mokoka (32) het verduidelik dat hulle daagliks sien hoe die jeug deur dwelms verswelg word.
“Al wat ons wil hê, is om seker te maak dat daar aandag aan ons griewe gegee word. Die polisie en ander wetstoepassers moet hul rol speel en toesien dat ons strate veilig is.”
Mzimkhulu Sangweni (45) het gesê: “Die kwessie van buitelandse burgers is ’n groot probleem. As ons net sit en niks doen sonder om ons ontevredenheid te wys nie, wag daar ’n lang stryd. Dit is al jare dat buitelanders ons dorpe bestuur. Vandag is ons hier om dit terug te eis.”
Die bevelvoerder van die Vanderbijlpark-polisiestasie, brigadier Phiwe Ndwandwe, het die skare toegespreek nadat hy die memorandum ontvang het.
“Ons sal jul kwessies bespreek en belowe om voor die verstryking van die 14 dae op jul griewe te reageer,” het hy gesê.
