
VANDERBIJLPARK – Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het ‘n belangrike stap geneem om sy internasionale betrekkinge te versterk met die ondertekening van ‘n susterstad-ooreenkoms met ‘n afvaardiging van Tai’an in China.

Die ooreenkoms het ten doel om ‘n langtermynvennootskap te vestig wat fokus op samewerking in regering, ekonomiese ontwikkeling, vaardigheidsontwikkeling en kulturele uitruiling tussen die twee stede.
Die ondertekening is bygewoon deur die uitvoerende burgemeester, rdl. Hassan Mako, lede van die burgemeesterskomitee, die bedryfshoof, Mothiba Mogofe, en die munisipaliteit se uitvoerende direkteure.
Mako het gesê die vennootskap bied nuwe geleenthede vir die Vaal se inwoners.
“Ons verwelkom hierdie vennootskap met ope harte. Vir die mense van die Vaal beteken dit beleggings in ons jeug, ondersteuning aan plaaslike ondernemings en nuwe platforms waar kunstenaars en entrepreneurs hul talent wêreldwyd kan ten toon stel,” het hy gesê.