Sterkte Leomand met dié groot gholftoernooi
Leomand Jacobs (12) is gereed om jong gholfspelers van regoor die wêreld op die gholfbaan aan te durf.
VANDERBILJPARK – Leomand Jacobs het verlede week na Pinehurst, North Carolina in die VSA vertrek. Vanaf 30 Julie gaan hy aan die US Kids World Championship 2026 deelneem.
Alhoewel hy maar 12 jaar oud is, het hy reeds twee SA Ope titels en twee Afrika Ope titels agter sy naam. Verlede jaar was hy deel van die SA o13 Top 10, al was hy net 11 jaar oud.

Leomand sien uit daarna om sy staal by die US Kids Worlds 2026 te gaan wys. Elke toernooi is ‘n bousteen vir sy professionele gholfloopbaan waarna hy streef.
Hy kon skaars loop toe begin hy al gholfballe slaan. Plastiek speelgoed gholfstokke het nie vir hom gewerk nie. Een hou en die gholfstok was stukkend.
Dis toe dat Armand en Chantél Jacobs besluit het om vir Leomond ‘n regte miniatuur gholfstel te koop. Die res, soos hul sê is geskiedenis en vier jaar gelede het hy aan toernooie begin deelneem.
Leomond se groot gholf held is Rory Mcllroy. Natuurlik gaan hy eendag ‘n professionele gholfspeler word. Soos hyself sê: “As ek nie gholf het nie, kan ek nie lewe nie.”
