‘n Jeugland Basaar is ‘n lekker basaar
Jeugland Tehuis vir Bejaardes se jaarlikse basaar het weer inwoners van heinde en verre getrek.
VANDERBIJLPARK – Wanneer Jeugland Tehuis vir Bejaardes hul jaarlikse basaar aankondig, kry die mense solank hul beursies uit.

‘n Mens weet sommer jy gaan lekker eet en mooi goed sien. Dit was weer die geval Saterdag. Buite was parkeerplekke sommer vroeg al so skaars soos hoendertande.
Binne het dit gegons en ‘n warboel van kleure en geure het besoekers begroet. Van die naaldwerktafel tot by die lekkergoedtafel was dit volgepak.

Die langste ry was by die pannekoektafel, want wat is ‘n basaar nou sonder pannekoek? Soos die oggend aangestap het, het die kerrie en rys, vetkoek en lekkernye groot aftrek gekry.
Buite het die Wit Olifanttafels mense gelok met oudhede, beertjies en allerhande ander snuisterye teen spotgoedkooppryse.
Daar is lekker gekuier rondom mooi versierde tafels en agter die kospotte het dit gekook. Basaar 2026 was ‘n groot sukses.