Voormalige hoof van Emfulenipark oorlede
Hartseer nuus, Mnr. Boet Erasmus is 1 Augustus oorlede. Ons innigste simpatie aan sy familie en vriende.
VANDERBIJLPARK – Dit is met diepe hartseer dat ons afskeid neem van Mnr. Boet Erasmus, geliefde voormalige skoolhoof van Laerskool Emfulenipark.
Hy het die skool met trots en toewyding gelei vanaf 1 Julie 1997 tot 31 Desember 2013.
Mnr. Erasmus sal altyd onthou word as ’n man van besondere karakter, ’n mens met ’n sagte hart, sterk waardes en ’n opregte liefde vir elke leerder en personeellid wat sy pad gekruis het.
Hy het nie net ’n skool bestuur nie, maar ook ’n gemeenskap opgebou waar elke kind gesien, gehoor en gewaardeer gevoel het. Waar personeel, ouers en kinders welkom gevoel het.
Sy vriendelike geaardheid, geduld en wysheid het ’n blywende indruk gelaat op almal wat hom geken het.
Dit kon duidelik deur die jare na sy aftrede gesien en gehoor word, wanneer oud leerders by die skool aangekom het om Mnr. Boet te kom groet en moes hoor, hy is nie meer daar nie.
