VANDERBIJLPARK – Die Vaalrivier het op Erfenisdag in ’n sensoriese skouspel van klank en kleur verander toe honderde bote die nuwe bootseisoen verwelkom het.
Suid-Afrikaanse en Springbokvlae het in die wind gewapper terwyl bote oor die rivier beweeg het. Langs die rivierbanke het honderde toeskouers saamgedrom.
Rookfakkels het helder teen die water gebrand en vuvuzelas het die lug met hul kenmerkende klank gevul. Bruingebrande lywe het op die bote se dekke gepronk en selfs ‘n hondekind het hier en daar saam op die water gevaar.




















Families en vriende het langs die rivier saamgekuier terwyl die versierde bote verbygevaar het.
Die opening, wat vroeër vandeesmaand weens gure weer uitgestel is, was ‘n klinkende sukses. Stonehaven on Vaal se Spirit of Jen-vlot was aan die voorpunt van die Flotilla met honderde kleurvolle bote op sy hakke.
Televisiespanne en kameramanne het bontgestaan om die skouspel was te vang, terwyl helikopters vanuit die lug toesig gehou het en die watervleuel op die water teenwoordig was om veiligheid tydens die vieringe te verseker.
Vir ’n paar uur was die Vaalrivier ’n mengsel van bootenjins, vuvuzelas, fladderende vlae en die gloed van rookfakkels wat luidkeels aangekondig het die bootseisoen is ampetlik oop.
