VANDERBIJLPARK – Ná ’n groot rugoperasie wat haar laat twyfel het of sy ooit weer haar aktiewe leefstyl sou kon hervat, het Gerdalize Bukes van Vanderbijlpark sterker as ooit teruggekeer.
Sy is op 12 November by die Mrs Curve South Africa 2026-kompetisie, wat by Emperors Palace gehou is, as een van die naaswenners aangewys en het boonop die Most Photogenictoekenning ontvang.
Die finaal het in die Theatre of Marcellus plaasgevind. Altesaam 30 vroue het aanvanklik vir die kompetisie ingeskryf, waarvan 12 tot die finaal deurgedring het.

Vir Gerdalize, wat sedert 2010 in Vanderbijlpark woon, het die kompetisie egter oor veel meer as net ’n titel gegaan.
“Die grootste oorwinning lê nie net in die plasings of toekennings nie. Dit lê in die vrou wat ek gedurende hierdie reis geword het.
Ek het myself opnuut ontdek, gegroei en geleer om my eie waarde te erken en met selfvertroue my plek in te neem.”
Gerdalize, ’n boorling van Villiersdorp in die WesKaap, het haar loopbaan as sleutelrekeningbestuurder by Sensor Security begin en is ook ’n model by Gapa Models.
Sy is ’n ywerige sportvrou wat reeds die Ironman 70.3 voltooi het en graag hardloop, fietsry en bergfiets ry.
In Augustus 2025 het sy egter ’n groot rugoperasie ondergaan waartydens twee tussenwerwelskyfies in haar laerug met kunsmatige skyfies vervang is.
“Ná jare van sport en ’n aktiewe leefstyl was daar ’n tyd toe ek onseker was of ek ooit weer op dieselfde manier sou kon oefen, hardloop of selfs gemaklik hoëhakskoene dra.”
Op 13 Februarie vanjaar het sy besluit om vir Mrs Curve South Africa in te skryf.
Haar doel was om die kompetisie as ’n platform te gebruik om bewustheid oor geestesgesondheid, liggaamspositiwiteit en die voordele van ’n aktiewe leefstyl te bevorder.
Die ervaring het ook sy uitdagings gehad. Sy moes haar voorbereiding vir die kompetisie met haar werk en gesinsverantwoordelikhede versoen. Een van die hoogtepunte was ’n uitnodiging van dr. Precious MoloiMotsepe om die Motsepe Foundation se GEWAL-simposium oor geslagsgelykheid, welstand en leierskap by te woon.
Gerdalize sê die vriendskappe wat sy gedurende die kompetisie gesmee het, was vir haar besonder waardevol.
Sy wil nou voortbou op die platform wat die kompetisie haar gebied het om vroue aan te moedig om in hulself te glo en openlik oor geestesgesondheid te praat. Gemeenskapswerk lê haar ook na aan die hart.
Sy dien op Saterdae as vrywillige wedloopdirekteur by die Pont de Valparkrun en ondersteun fondsinsamelingsprojekte vir Lungisane Indlela Children’s Home.
Gedurende haar Mrs Curve-reis het sy ook gehelp om ’n liefdadigheidspadelgeleentheid aan te bied waartydens R10 000 vir die gemeenskap ingesamel is.
Haar boodskap aan vroue wat huiwer om nuwe uitdagings aan te durf, is eenvoudig:“Moenie wag totdat jy selfvertroue het om die eerste tree te gee nie.
Soms ontwikkel selfvertroue juis wanneer jy bereid is om iets te doen wat buite jou gemaksone is.”Sy voeg by dat vroue hulself nie voortdurend met ander moet vergelyk nie.
“Moenie wag totdat jy perfek voel, die perfekte liggaam het of dink jy is goed genoeg nie. Jy is reeds genoeg.”
Gerdalize sê haar man, Ruyten, en haar twee seuns was haar grootste ondersteuners gedurende die kompetisie.
Sy bedank ook haar familie, vriende, mentors en borge vir hul ondersteuning en aanmoediging.
“’n Mens bereik nie jou drome alleen nie. Daar is altyd mense agter die skerms wat jou help om aan te hou glo