Elke wedren is ‘n oorwinning
Om amperr 100km met 'n fiets te ry, is 'n uitdaging vir gesoute fietsryers. Gerda Janssen het 'n seldsame siekte en sy het dit gedoen..
VANDERBIJLPARK – Gerda Janssen het Sondag die 97 km van die Ride Joburg-fietswedren aangepak. Laatmiddag het sy laat weet: “I made it!”
Sy het die uitmergelende wedren gedoen vir die Rare Disease Foundation. As deel van die Ride 4 Rare-span durf sy langafstand fietswedrenne aan om bewusmaking te skep en fondse in te samel vir mense wat met seldsame siektes gediagnoseer is.

Gerda het self ‘n seldsame longsiekte, Lymphangioleiomyomatosis (LAM). Die Ride Joburg was vir haar ‘n groot uitdaging. Sy was vir vier weke voor die wedren siek en Saterdag het vriende haar nog afgeraai om dit te doen.
Maar, sy het dapper deurgedruk en klaargemaak. “Elke race wat ek klaarmaak is vir my ‘n oorwinning. Ek het lekker gehuil,” vertel sy. Sy is dankbaar dat Jacques Maritz, wat die Childhood Cancer Foundation (CHOC) verteenwoordig, saam met haar gery het.
Hy het die tog in ‘n koei-pakkie aangedurf. Dit het haar gerus gestel om te weet hy is daar sou sy hulp benodig. “Hy was ‘n engel. Hy het seker gemaak ek genoeg eet en drink langs die pad,” sê sy.
Gerda het ook osteoartritis in haar lae rug en het met erge rugpyn gery. CHOC het haar langs die pad gehelp en sy kon ‘n pynpil drink. Na die wedren moes sy nog ‘n uur ry opsoek na haar motor. ‘n Paar dae na die resies het sy gesê sy is steeds moeg, maar baie bly dat sy dit kon doen.
