Botha & Deysel Executive Motors vier trotse geskiedenis van 40 jaar!
Dié vertroude familie-onderneming gaan na vier dekades steeds van krag tot krag.
Botha & Deysel Executive Motors se lang en trotse geskiedenis in die Vaaldriehoek is vroeër die maand met ‘n swierige aandonthaal gevier.
Die onderneming is al meer as 40 jaar die vertroude wegspringplek vir mense wat ‘n voertuig wil koop. Of dit nou ‘n splinternuwe sport- of gesinsmotor is, ‘n klassieke versamelaarsitem, ‘n nuwe of gebruikte sportnuts of die ideale studentewiele, jy gaan dit ongetwyfeld hier vind. Botha & Deysel Executive Motors het tans meer as 450 voertuie in voorraad en as jy nie dadelik jou droomvoertuig hier sien nie, gaan hulle moeite doen om dit vir jou te vind.
Botha & Deysel Executive is in 2023 vir die 34ste opeenvolgende jaar as ‘n ‘Absa Golden Dealer’ aangewys – ‘n verstommende en uitsonderlike nasionale prestasie aangesien slegs een ander handelaar Absa se Goue Handelaarstrofee vir soveel agtereenvolgende jare kon verwerf.
Botha & Deysel Executive het deur die jare ook verskeie ander groot toekennings ontvang. Frikkie Botha, hoofdirekteur en een van die grondleggers van die onderneming, is reeds in 1990 as Sakeman van die Jaar aangewys. In daardie stadium was hy die jongste sakesman ooit om dié toekenning te verwerf.
In 2004 is die onderneming onder die drie top besighede in Old Mutual en Rapport se Saketoekennings vir daardie jaar aangewys. Sedert 2013 ontvang die onderneming jaar-na-jaar ‘n PMR Diamond Arrow-toekenning, die hoogste in die kategorie, waar hulle deur onafhanklike beoordelaars en die publiek vir uitmuntende diens uitgesonder word. In 2014 was Botha & Deysel Executive die heel eerste handelaar om Absa se gesogte Arendtoekenning vir uitsonderlike prestasies te verwerf, en in 2016 het hulle die gesogte International Quality Crown (IQC) Award in die goue kategorie van die International BID Quality Convention ontvang.
Dat daar baie hard vir dié toekennings gewerk word, is seker. Daarvan kan duisende tevrede kliënte getuig, maar Frikkie sê die onderneming se sukses is hoofsaaklik te danke aan baie genade van Bo en ‘n strewe om hul beste vir hul kliënte te gee.
Frikkie is steeds hoofuitvoerende beampte van die onderneming maar het die leisels die afgelope jare toenemend aan sy seuns begin oorhandig. Armand, Frikkie (junior), Ruan en Morné is van jongs af in die onderneming geskool en van die seuns is reeds sedert 2011 amptelik betrokke. Armand is sedert 2018 handelaarshoof in Vereeniging en Ruan is die handelaarshoof in Vanderbijlpark. Broer Morné behartig die groep se eiendomsportefeulje en boer ook op van die grond in die Heilbron-distrik. Frikkie (junior) het intussen FRZ Motors in Vanderbijlpark geopen.
Die onderneming rus nie op sy louere nie en brei steeds uit. In November 2021 het Botha & Deysel se oorspronklike vertoonlokaal na die geboue aan die oostekant uitgebrei. ‘n Swartbemagtigingsonderneming, Selikane Motors, is ook reeds in Vereeniging se sakesentrum gevestig.
Botha & Deysel Executive roem daarop dat hulle steeds die beste inruilpryse aanbied en hulle lewer landwyd af. Uitstekende kliëntediens word gewaarborg. Die onderneming koop en verkoop hoëgehalte gebruikte motors teen die beste pryse en het ‘n uitgebreide voertuigkeuse wat wissel van ligte passasiersvoertuie, SUV’s, 4×4’s en bussies tot afleweringsvoertuie.
“Hoewel ons fokus op gebruikte voertuie, is dit altyd ‘n plesier om vir ‘n kliënt presies te vind waarvan hy of sy droom, hetsy dit ‘n gebruikte of nuwe voertuig is,” sê Frikkie (senior). Sodra jy jou ideale motor gekies het, staan die span jou by om finansiering te reël.
“Ons ervaring en toekennings spreek vanself. Kom stel ons gerus op die proef,” nooi die Bothas.
* Skakel die span by (016) 455 1201 in Vereeniging, of (016) 100 0196 in Vanderbijlpark om meer oor die onderneming en die beskikbare voertuie uit te vind.
Vir ‘n vinnige kykie na die lieflike voertuie wat tans beskikbaar is, besoek die Facebookblad https://www.facebook.com/BothaandDeyselExecutiveMotors of webwerf https://www.bdexecutive.co.za/ of op Instagram (b_executive_) om hul nuwe voorraad en promosies te sien.

