Skoonmaakaksie beplan langs SAVF Kammaland
World Cleanup Day word Saterdag wêreldwyd gevier. In die Vaal het AECI en hul vennote besluit om ook hul deel te doen.
VANDERBJILPARK. – Saterdag, 17 September is World Cleanup Day. Op Vrydag, 16 September gaan AECI, hul vennote en vrywilligers inspring om die veld langs SAVF Kammaland Kleuterskool skoon te maak.
Kammaland is die oudste kleuterskool in die Vaal en op die stadium lyk die veld, oorspronklik veronderstel om ‘n groenstrook te wees, naar.

Daar lê hope vuilgoed wat ook gereeld aan die brand gesteek word. Dit hou ‘n gesonheidsgevaar in vir die kleuters asook die woonstelbewoners aan die oorkant van die strook.
AECI gaan onder andere ‘n stootskraper en vragmotor gebruik om die ergste vuilgoed te laai. Daar word ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om te kom help om die gemors op te tel.
Voorsiening word gemaak om 50 vrywilligers van versnapperingspakkies, gumboots, plastiese sakke en optel-stokke te voorsien.
Sylvanna Potgieter van AECI het gesê daar sal ook herwinnings bewusmakings opleiding deur Petco verskaf word en die groenstrook sal na die skoonmaak operasie verfraai word.
Die span gaan ook op 15 en 16 September ‘n skoonmaakaksie loods langs een van Zamdela se laerskole. Hier maak hul voorsiening vir 250 vrywilligers om hulp te kom verleen en daar sal ook opleiding in die plant en versorging van groentetuine verskaf word.
AECI gaan ook twee groentetonnels aan die Theha Setjihaba Primary School skenk. AECI se vennote in die twee projekte sluit in SASOL, SAFRIPOL, AVERDA, Eskom, Enviroserv, Magic Lawns, Petco, Natref, Fezile Dabe en Metsimaholo.
