Gebore onderwysman word hoof van LS Frikkie Meyer
"Ten spyte van al die uitdagings het ek nog baie hoop vir die onderwysstelsel in ons land. As ons net ons fokus op die kinders hou, glo ek ons gaan vooruitgang ervaar," sê Barend Schrap.
VANDERBIJLPARK. – ‘n Liefde vir onderwys vloei al van jongs-af sterk deur mnr. Barend Schrap se are. Op 1 Junie het hy ‘n verdere trap op sy loopbaanleer in die onderwys geklim toe hy tot skoolhoof van die Laerskool Frikkie Meyer bevorder is.
Dié toegewyde onderwysman is op 1 April 1988 in Sasolburg gebore en het aan die Laerskool DF Malherbe en Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark skoolgegaan. Hy het grootgeword in ‘n huis waar sy ma, wyle mev. Ita Schrap, ‘n onderwyseres was en al sy tannies ook. As jong seun was hy goed bewus van hul lang ure se merkwerk en toe hy ouer word, wou hy altyd daarmee help.
Na matriek was ‘n loopbaankeuse maklik: Hy wou onderwyser word. Na voltooiing van sy studies aan die Noordwes-Universiteit in 2010, het hy ook sy honneursgraad in 2012 behaal en as jong onderwyser by die Laerskool Oospark aangesluit. Na 5½ jaar is hy as departementshoof en later as waarnemende adjunkhoof by Oliver Lodge Primary School aangestel, waar hy onder die uitmuntende skoolhoof, mev. Christine van Niekerk, gewerk en waardevolle ervaring opgedoen het. In Julie 2019 is hy tot adjunkhoof van Laerskool Frikkie Meyer bevorder, waar hy vanaf Februarie 2022 as skoolhoof waargeneem het. Hy is op 1 Junie vanjaar permanent in die pos aangestel.
Die skool het tans 824 leerlinge en ‘n personeelkorps van 36. Barend het groot lof vir mnr. Pule Morake, die skool se “Institutional Development & Support Official” (IDSO) wat hom die afgelope maande in besonder bygestaan en ondersteun het.
Barend glo dat daar altyd groot uitdagings op onderwysgebied in Suid-Afrika sal wees – meeste daarvan sosio-ekonomies. “Ten spyte van al die uitdagings het ek nog baie hoop vir die onderwysstelsel in ons land. As ons net ons fokus op die kinders hou, glo ek ons gaan vooruitgang ervaar,” sê hy.
Hy het groot drome vir Laerskool Frikkie Meyer, en met sy positiewe aard en werkywer gaan hy dit ongetwyfeld laat realiseer. “Die skool is onlangs opgeknap en dit gee ons die geleentheid om oor te begin. My visie vir Frikkie Meyer is om gemeet te word teen die res van die skole in Vanderbijlpark en om as een van die topskole in die dorp gesien te word. Ek is oortuig daarvan dat ons dit sal kan doen,” sê hy.
En wat is die doelwitte wat hy nog graag in sy beroep en op ‘n persoonlike vlak wil bereik? “Ek dink baie hieroor want mens stagneer so vinnig. Die geleentheid om hoof van enige skool te wees kan maklik gesien word as die eindbestemming. Ek hoop om eendag die geleentheid te hê om by die distrik te kan gaan werk. Ek gaan wel die kinders mis, maar ek glo die verskil wat mens van daar af kan maak, is groter as net by een skool.”
Barend is nie die enigste lid van die Schrap-huishouding wat intensief by onderwyssake betrokke is nie. Sy vrou, Chantelle, blink ook uit as departementshoof in die grondslagfase by Oliver Lodge. Die egpaar is in 2016 getroud en is die ouers van ‘n pragtige seuntjie, Zacko, wat in 2020 gebore is. Hulle sien ook met groot vreugde uit na die koms van hul tweede seun, Christon, wat oor so vier maande verwag word.
Die onderwys kan ‘n baie stresvolle beroep wees, maar Barend sorg dat hy tyd maak vir ontspanning. “Ek is baie lief vir my gesin, ek het so grootgeword, so as ek by hulle is, is ek op my gelukkigste. Ons is versot op diere en die natuur oor die algemeen – meer spesifiek die Kruger-wildtuin. So, ons beplan altyd ons vakansies om daarheen te gaan – winter of somer. Net daardie stilte gee mens die geleentheid om te herlaai en introspeksie te doen.”
Hy het baie waardering vir sy ouers wat van jongs-af sterk waardes en werkywer by hom vasgelê het. Sy ma het ongelukkig in Junie 2021 haar stryd teen kolonkanker verloor, maar sy pa is nog perdfris en ongetwyfeld baie trots op die nuwe mylpaal in Barend se loopbaan. “As dit nie vir my ouers se ondersteuning deur die jare was nie, sou ek waarskynlik nooit hierdie doelwit bereik het nie,” sê Barend.


