VANDERBIJLPARK. – Na byna 40 jaar in die onderwys, het Ricardo Erasmus, geliefde skoolhoof van die Hoërskool Driehoek, op 61-jarige ouderdom besluit om die tuig neer te lê.
Hoewel hy na sy studies aan die Pretoria Onderwyskollege en sy verpligte militêre diensplig ‘n pos by die Laerskool Oospark in Vanderbijlpark aanvaar het, het hy na slegs 12 maande besef dat hy sy heil by die hoërskole gaan vind. “Kinders en sport is waarvoor mens in die onderwys is.
Akademie is wel die belangrikste, maar dis darem lekker vir kinders om ander aktiwiteite ook te doen. Ek kon al op 60 aftree, maar het besluit dat 61 die regte ouderdom is,” gee hy te kenne. Hy het later ook ‘n B.A-graad aan die destydse Vaal Pukke verwerf.
Hy het 16 jaar lank by die HS Driehoek skoolgehou voordat hy ‘n adjunkhoofpos by die HS Overvaal aanvaar het. Hy het die pos vir agt jaar beklee.
In 2011 het hy as adjunkhoof by die HS Driehoek teruggekeer, waarna hy in 2019 met die aftrede van mnr. Hein Knoetze tot hoof bevorder is. Volgens Ricardo gaan hy vir die afsienbare toekoms in die Vaaldriehoek aanbly.
Intussen gaan mnr. Jan Toerien en mev. Monica Dirks om die beurt waarneem in die pos tot ‘n amptelike aanstelling plaasvind. Vaalweekblad, die gemeenskap, ouers, leerlinge en onderwysers wens hom alle sterkte en voorspoed toe. Hiernaas volg die skool se roerende afskeidsbrief: Voorman van formaat, ‘n vriend nader as ‘n broer, ‘n oor wat luister en die eienaar van ‘n Olimpiese medalje in die titel “grapjas”.
Met ‘n sagte, maar ferm stem, geduld soos Sal die regte mnr. Erasmus asseblief sy hand opsteek? Van die Hoekies het maskers met hul skoolhoof se gesig daarop gemaak om van hom afskeid te neem. Job, ‘n goeie sin vir humor, so droog soos die Sahara, maar traan-in-die-oog snaaks: vir meer kleurvol kon ons nie vra nie. In Mnr. Ricardo Eramus se kantoor was menige persoonlikhede so tuis soos ‘n vis in die water.
Hy kon aanklank vind by enige iemand, van die belhamel, regdeur tot die muurblom. Sy talente het gestrek so breed soos die Heer se genade. Van rugbyafrigting, tot honde leer gholf speel. Hy kon selfs ‘n fenominale Toerisme-klas aanbied.
Mnr. Erasmus, jy was ‘n legende wat aan Hoërskool Driehoek en sy kameraadskap leiding gegee het, voorgeloop het met voorbeeld en trots pa gestaan het. Ons sê dalk tydelik totsiens, maar nie vaarwel nie. Ons groet ‘n pilaar, ‘n waardige leier en ‘n man van God.
Teen ons kantoorgang se muur, sal jou onvergeetlike herinneringe vasgevang word in ‘n kiekie, waar menige van ons sal glimlag, wanneer ons die prent teen die muur gewaar. Waar sommiges ‘n hoof sal buig vir die hoof wat waardes, omgee en trots gekweek het en waar ander ‘n traan sal pik oor ‘n held wat verskiet het.
Mnr. Erasmus, ons salueer jou vir wie jy vir Driehoek was, maar ook nog lank in die f luister van die wind, in die gange van ons skool, ons trots, ons huis, sal wees. Groete Jou Hoekie-familie.
