News

Fenn-moord: Moordenaar se dwelmafhanklikheid in hof onthul

Die man wat die 67-jarige Charlotte Fenn van Vereeniging in die kop geskiet het was blykbaar veslaaf aan ‘n kalmeermiddel wat hy vir sy angstigheid geneem het.

*Die berig het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (10 – 16 May, 2024) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydag om op hoogte te bly van verwikkelinge in die saak.

VEREENIGING. – ‘n Loseerder (52) wat sy 67-jarige verhuurder in 2023 doodgeskiet het, se dwelmafhanklikheid het onlangs in die hof op die lappe gekom.

Quinton Edgar (52) is vroeër vanjaar saam met sy saamleefmaat, Lindsay Kirton (32), aan die moord op Charlotte Christine Fenn (67) skuldig bevind, terwyl Fenn se eie seun, Grant du Toit (48), intussen vrygespreek is van die moord.

Edgar en Kirton het sedert Januarie 2023 – sowat ‘n maand voor die oorledene se dood – by Fenn begin loseer.

Edgar het haar in Februarie vermoor, waarna hy haar liggaam langs die spoorweg in Redan gaan gooi het.

Hy en Kirton is daarna na ‘n plaas in die Sasolburg-omgewing waar hulle Fenn se Kia-bakkie aan die brand gesteek het.

Dit het op die lappe gekom dat Edgar aan ‘n dwelmmiddel genaamd Azor verslaaf was.

Volgens Edgar se regsverteenwoordiger, Paul Motsweni, het sy klient die dwelmmiddel begin gebruik om sy angstigheid te behandel.

Die middel word blykaar ook vir hoë bloeddruk gebruik.

‘n Voorbeeld van ‘n Azor-tablet. Quinton Edgar het hierdie pille begin drink vir sy angstigheid en glo verslaaf geraak.

Dit het ook in die hof aan die lig gekom dat Edgar en sy saamleefmaat finansieel swaar getrek het en gesukkel het om kos op die tafel te sit, wat nog te sê vir dwelms te betaal.

Edgar, wat aanvanklik onskuldig gepleit het op aanklag van moord, het vroeër vanjaar opslae gemaak toe hy uitendelik erken het dat hy vir Fenn twee keer in haar Kia-bakkie met haar eie handwapen geskiet het.

Hy het toe erken dat Du Toit niks met die moord te doen gehad het nie.

Slotbetoë ter strafversagting en strafverswaring is onlangs in die rondgaande hooggeregeshof in Palm Ridge aangehoor.

Quinton Edgar in die hof met voetboeie. Foto: Christiaan Cloete

Back to top button