VEREENIGING. – Altesaam agt lede van die Vaal Atletiekklub in Vereeniging sal op die oggend van 9 Junie voor die stadsaal in Durban aantree vir die 97ste Comrades Ultramarathon tussen Durban en Pietermaritzburg.
Die afstand van vanjaar se wedloop is sowat 85.9 km, wat dit die kortste wedloop in die 100-jarige bestaan van die Comrades sal maak. Die wedloop begin om 05:30 en atlete het tot 17:30 (presies 12 uur) om dit tot by die eindpunt by die Scottsville-renbaan in Pietermaritzburg te maak.
Cor Grey, wat al 18 Comrades-wedlope voltooi het en mik vir ‘n 19de Comrades, is die mees ervare atleet uit die groep, terwyl Quentin Kotze (wat ook vir verlede jaar se wedloop ingeskryf het) hoop om vanjaar sy eerste Comrades-wedloop te voltooi. Ster North wens dié atlete sterkte toe.
