News

Fabriekswerkers, personeel skenk bloed

Werkers van Meyerton Engineering het besluit om hul moue op te rol en hul deel vir Wêreldbloedskenkdag te doen.

MEYERTON. – Hulle sê dat deur een keer bloed te skenk, jy die lewens van soveel as drie mense kan red.

Altesaam 77 mense, wat werknemers van Meyerton Engineering en ander maatskappye in Meyerton se industriële gebied insluit, het Woensdag, 12 Junie hul moue vir ‘n goeie doel opgerol en bloed aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) geskenk.

Charné Crous van People Relations Solutions (PRS), ‘n maatskappy wat menslike hulpbrondienste en arbeidsadministrasie lewer, besig om bloed te skenk. Sy wys met haar vinger na die kombersie wat sy by die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) gekry het. Foto: Christiaan Cloete

14 Junie is Wêreldbloedskenkdag en Junie is Nasionale Bloedskenkmaand. Wêreldbloedskenkdag is ‘n wêreldwye geleentheid wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) begin is om bewustheid oor die behoefte aan veilige bloed te skep.

Volgens Thandi Mosupye, senior bestuurder by die SANBD, is die doel van Nasionale Bloedskenkdag om die noodsaaklike bydrae wat bloedskenkers lewer om mense en gemeenskappe gesond te hou, uit te lig. “”Elke jaar benodig duisende Suid-Afrikaners bloedoortappings tydens mediese prosedures, noodgevalle en vir voortdurende mediese toestande,” sê Mosupye.

Bloedskenkers wag geduldig in ‘n ry om bloed by Meyerton Engineering te skenk. Voor in die ry is Mike van den Berg, besturende direkteur van People Relations Solutions (PRS). Foto: Christiaan Cloete

In die aanloop tot dié jaarlikse bewusmakingsveldtog het due SANBD ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om bloed te skenk. Die bloed wat geskenk word, word geprosesseer en in bloedplaatjies, plasma en rooibloedselle verdeel en kan vir verskillende doeleindes gebruik word.

Hector Cameron, besturende direkteur van Meyerton Engineering, het Woensdag in ‘n kort toespraak, voordat die bloedskenkverrigtinge begin het, gesê: “Ons is natuurlik vandag hier vir die bloedskenkveldtog. Meyerton Engineering kyk hoe ons by meer sosio-ekonomiese ontwikkelingsprojekte betrokke kan raak. Ons wil graag terugploeg in die gemeenskap.”

Daniel Motsepe, ‘n fleboloog van die Suid-Afrikaanse Nastionale Bloeddiens, help vir Phemla Phaweni, ‘n werknemer van Flexilube in Meyerton, om bloed te skenk. Foto: Christiaan Cloete
Net ‘n prikkie: ‘n Fleboloog van die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens druk ‘n naald in die arm van Charné Crous. Foto: Christiaan Cloete
Lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) was Woensdag 12 Junie by Meyerton Engineering in Albert Wesselsstraat in Meyerton se industriële gebied om bloed in te samel. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button