News

Jongman (20) vermoor pas nadat hy verloof raak

Hy het aan sy meisie verloof geraak en toe spoorloos verdwyn. Die volgende dag is sy lyk langs Barrageweg ontdek.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste nuus, eerste.

VEREENIGING. – Hy het Vrydag (7 Junie), op die dag van sy dood, aan sy meisie verloof geraak.

‘n Paar uur later is sy lyk met steekwonde langs Barrageweg (R42-pad) naby die Isak Steyl-stadion gevind.

Die polisie van Sharpeville ondersoek ‘n saak van moord.

Die vermoorde Nico Dean Venter (20).

Nico Dean Venter (20) het op die aand van sy dood van Vanderbijlpark na Vereeniging gestap toe hy spoorloos verdwyn het.

Sy lyk is Saterdag (8 Junie) gevind.

Volgens konst. Busi Sango, ‘n woordvoerder vir die Sharpeville Polisie, het ‘n verbyganger op Venter se lyk afgekom en die polisie ontbied.

Daar was bloedkolle aan sy klere. Die polisie het ook ‘n swart Adidassweetpakbaadjie op die toneel gevind,” het Sango aan Vaalweekblad vertel.

Nico Dean Venter (20) met sy verloofde, Madelein Dednam.

Volgens die oorledene se ma, Laura Venter (47), was Nico per voet vanaf sy verloofde, Madelein Dednam, se huis in Vanderbijlpark na sy eie huis in Leeuhof op pad.

Nico het glo omstreeks 17:00 Madelein se huis verlaat.

Die stapgtog (vanaf Vanderbijlpark na Vereeniging) neem volgens Nico se ma hom gewoonlik ‘n uur.

Hulle het hom met ‘n dun, skerp voorwerp in sy bors gesteek. Dit het reg deur die hart gegaan.

Madelein het my Saterdag omstreeks 14:15 ‘n boodskap gestuur en gevra of Nico veilig by die huis aangekom het. Ek het gedink dat hy miskien by sy nefies in Vanderbijlpark was. Ons het hulle geWhatsApp, maar niemand het iets geweet nie,” vertel Madelein.

Nico is toe by die polisie as vermis aangemeld.

“’n Polisieman van Vanderbijlpark het ons later gebel en vertel dat hulle ‘n wit man se lyk naby Sharpeville gevind het,” vertel Nico se ma.

Sy het Saterdag na die lykshuis gegaan waar hulle hom uitgeken het.

Hulle het hom met ‘n dun, skerp voorwerp in sy bors gesteek. Dit het reg deur die hart gegaan. Dit lyk amper soos ‘n merk wat deur ‘n skroewedraaier gemaak is, maar dit is nie ‘n skroewedraaier nie, dit was ‘n langer voorwerp,” vertel sy ma.

Die oorledene en sy verloofde, Madelein Dednam.

Nico was ‘n leerder van Eureka Skool tot na sy 18de verjaardag.

Hy was ‘n rustige kind en een van die skool se toppresteerders,” vertel sy ma.

Hy was ook glo ‘n kranige swemmer.

Nico was die jongste van drie kinders.

‘n Begrafnisdiens vir Nico word volgende Donderdag gehou.

Intussen het die Sektor 3 Gemeenskapspolisiëringsforum in Vanderbijlpark die publiek gewaarsku oor ‘n vlaag misdade wat motorkapings en moorde langs die R42, tussen Makro en die Isak Steyl-stadion insluit.

Ons raai mense aan om onder geen omstandighede langs dié pad te stop nie. Dit het ‘n gevaarlike area geword,” lees die waarskuwing.

Die polisie van Sharpeville het ‘n beroep op mense met inligting oor die moord gedoen om die polisie op die tolvrye nommer, 08600 10111 te skakel of die MySAPS-toepassing te gebruik om inligting vertroulik deur te gee.

Motoriste word aangeraai om nie langs die Barrage-pad te stop nie. Foto: CPF Vanderbijlpark Sector 3/ Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button