Vereeniging-slimkop as top fisikastudent in wêreld aangewys
Hy het teen studente van 40 lande regoor die wêreld meegeding.

VEREENIGING. – Hy geniet fisika, want die vak daag hom uit om kreatief te dink en komplekse probleme op te los.
So sê die 16-jarige Reghardt Rossouw, ‘n student aan Roots Academy-privaatskool in Vereeniging, wat onlangs as die top fisikastudent in die wêreld aangewys is.
Reghardt is beoordeel op die punte wat hy verlede jaar vir sy Cambridge-eksamen (gelykstaande aan matriek), behaal het.
Die Roots Academy is geaffilieer aan die Oxford Training Centre in Randburg.
Die toekenning vir uitstaande Cambridge-leerders, wat deur die British Council en Cambridge International uitgereik is, is in Mei vanjaar tydens ‘n geleentheid in Melrose Arch aan Reghardt oorhandig.
Reghardt het teen studente van 40 lande van regoor die wêreld meegeding.
Hy doen vanjaar sy A-vlak eksamen en wil graag daarna ingenieurswese of aktuariële wetenskappe aan ‘n universiteit oorsee studeer.
Reghardt is ook verlede jaar as top-fisikastudent op Cambridge se IGCSE-vlak (gelykstaande aan Graad 11) aangewys.

Reghardt is die seun van Pieter, ‘n elektroniese ingenieur, en dr. Zelda Rossouw, ‘n radioloog wat by Trirad Radioloë, wat in Vanderbijlpark en Vereeniging werksaam is.
Reghardt is hul middelste kind.
Hy het ‘n ouer sussie, Olivia (18), wat ook besig is met haar Cambridgde AS/A-vlak en van plan is om in ‘n mediese rigting te studeer, en ‘n jonger sussie, Amélie (9), wat in Graad 3 by Laerskool Risiville is.
Volgens Reghardt se ma, Zelda, het hulle in 2020 tydens die Covid-inperking besluit dat Reghardt en Olivia eerder na ‘n privaatskool wat internasionaal erkende kwalifikasies aanbied moet oorskuif.

Reghardt glo dat goeie tydsbeplanning baie belangrik is om goed te presteer.
“Jy moet weet hoe om jou tyd goed te bestuur. Met vakke soos fisika en wiskunde is dit belangrik om baie vrae te oefen, so hy het baie ou vraestelle uit gewerk in plaas van om al die werk te probeer mooi opsom,” vertel Ma Zelda.
Dan is dit ook belangrik om belangrike konsepte in die modules te verstaan en die werk vir jouself interessant te hou.
Reghardt geniet fisika omdat dit hom fassineer hoe fisiese beginsels alles kan verduidelik.
Fisika daag hom uit om kreatief te dink om komplekse probleme op te los.
Verder is sy gunsteling vak Wiskunde, waarvoor hy ook laasjaar ‘n gemiddeld van 98% behaal het op AS / matriek vlak.
Reghardt sal graag oorsee wil studeer omdat hy die wêreld daar buite wil ervaar.
Wanneer hy nie agter die boeke of sy skootrekenaar is nie, hou Reghardt daarvan om tennis te speel en te kyk. Sy gunstellingspeler is Daniil Medvedev.
